Ermeloërs verlig die weg vir ouers van Isabella en Daniel
Die groep het daarin geslaag om meer as R17 000 by die geleentheid in te samel, en 'n verdere R42 000 is in die rekening deur mense wat by die geleentheid aangesluit het of bloot net 'n bydrae wou maak, inbetaal.

ERMELO – ‘n Groep inwoners het ná die onlangse tragedies wat hier met Daniel Kerswell (2) en Isabella Stark (1) afgespeel het, besluit om ‘n pretdraf te reël om geld in te samel.
Klein Daniel is op 5 September tydens
‘n fratsongeluk by hul huis raakgery, en klein Isabella is op 20 September oorlede nadat sy geval het en aan fyngekapte neute verstik het.
Dié pretdraf het die aand van 7 Oktober by die Kralinbergh Gastehuis plaasgevind.
Sowat 250 Ermeloërs gekleë in helder klere en prettige pruike was gereed met hul flitse en kopligte om die roete aan te pak.
Me. Kate du Plessis, die organiseerder van die pretdraf, het vertel dat hulle ‘n groot kans gewaag het om die byeenkoms in slegs twee weke te reël, maar was oorweldig deur die groot belangstelling van die gemeenskap.
SIEN OOK: GALERY – Was jy daar? Ermeloërs opgedollie vir pretdraf by Kralinbergh
Die groep het daarin geslaag om meer as R17 000 by die geleentheid in te samel, en ‘n verdere R42 000 is in die rekening deur mense wat by die geleentheid aangesluit het of bloot net ‘n bydrae wou maak, inbetaal.
“Ek is heeltemal verstom oor die vrygewigheid van mense en die bereidwilligheid om volslae vreemdelinge by te staan – dit versterk my geloof in die mensdom,” het sy vertel.
Sy het die span wat haar gehelp het om die geleentheid te reël, bedank.
“Dankie aan almal wat hierdie geleentheid ondersteun het en aan almal wat dit moontlik gemaak het, dié wat alles geskenk het wat ons moontlik nodig gehad het – daar is nie genoeg woorde om my dankbaarheid uit te spreek nie,” het sy afgesluit.