Tyd tel teen Devin vir koglea-inplanting, ouers draai na gemeenskap vir hulp
Met die ideale ouderdom vir dié operasie wat vier is, begin die tyd teen Devin tel ten opsigte van die doeltreffendheid van die apparaat.

ERMELO – Devin Rheeders (4) is deur die Oorinstituut in Pretoria met ouditiewe sinchronisasie disfunksie (ANSD) gediagnoseer.
Dié seuntjie en sy tweelingboetie is op 32 weke in Mbombela gebore.
Nadat hulle in die intensiewesorgeenheid opgeneem is, het hulle infeksie opgedoen en is op antibiotika geplaas en het gevolglik ses weke in dié eenheid deurgebring.
As baba het Devin, nes sy broer, goed ontwikkel en het hy al sy mylpale behaal.
Sy ma, me. Natasha Rheeders, het gesê dat hy selfs gereageer het wanneer hulle met hom gesels.
Toe die tyd aanbreek dat hy moet begin praat, het sy broer gesels en nuwe woorde gepraat, maar Devin glad nie.
“Ons het raad by vriende en familie gevra wat gesê het dat ons nie die twee broers met mekaar moet vergelyk en dat Devin dalk net stadiger ontwikkel as dit by praat kom.”
Natasha se mamma-hart het egter gevoel dat hulle hom moet laat toets net om seker te maak.
Ná ’n besoek aan die pediater in Mbombela, wat voorgestel het dat hulle na sy mangels laat kyk, is dit na sy tweede verjaarsdag verwyder en het hy dreineringsbuisies gekry.
Ses maande later het Devin se spraak steeds nie verbeter nie en is sy ouers met hom na ’n oudioloog en spraakterapeut in die dorp.
Toetse het aangedui dat daar wel fout met sy gehoor is en ’n ouditiewe breinstamrespons (ABR)-toets, het bevestig dat sy gehoorverlies ernstig was.
’n ABR-toets is ’n pynlose toets om te sien hoe die gehoorsenuwees en brein op klanke reageer.
Devin se pa, mnr. Franscois Rheeders, het egter aangedring dat hulle ’n tweede opinie kry, waarna die gesin na die Oorinstituut in Pretoria verwys is.
Gedurende ’n prosedure is Devin onder narkose geplaas waar daar weer ’n ABR-toets gedoen is.
’n MRI- en CT-skanderings is gedoen om alle ander moontlike oorsake van gehoorverlies uit te skakel en om te bevestig of Devin ’n geskikte kandidaat sou wees vir koglea-inplantings.
Dit is bevestig dat Devin ANDS het, waar die senuweepunte in sy koglea nie die regte seine na sy brein stuur nie, ‘n probleem wat slegs met koglea-inplantings reggestel kan word.
Met die ideale ouderdom vir dié operasie wat vier is, begin die tyd teen Devin tel ten opsigte van die doeltreffendheid van die apparaat.
Sy ouers wat nie ’n mediese fonds het nie, het begin om fondse in te samel om vir hom die beste geleentheid moontlik te gee om te kan leer praat en hoor.
Hoewel Devin twee inplantings benodig wat die gesin sowat R605 575 uit die sak gaan jaag, het me. Rheeders vertel dat net een inplanting reeds ’n groot verskil in sy lewe kan maak.
Die kostes vir slegs een inplanting beloop sowat R375 000.
Lees die volledige berig in die Hoëvelder.





