Maak ’n rooi kring op jou kalender, Spioenkop Kersmark is om die draai
Daar sal soos oudergewoonte verskeie uitstallers met uitsoekitems te kies en te keur wees.
ERMELO – Nagenoeg 500 mense het op 28 November verlede jaar die Kersmark by Spioenkop Venue bygewoon.
Vanjaar beoog die organiseerders om op 4 Desember dié getal te oortref.
Markgangers kan uitsien na die talentvolle duo, Dirkie van Staden (kitaarspeler) en Johann Scheppel (violis), van Strings on Fire en ’n ware Kersatmosfeer wat deur leerders van Theresa Jacobs se musiekskool geskep gaan word.
Corli Botha, die aanbieder van Ontbytsake en ‘n Koekedoor-wenner, gaan ook vanjaar by die mark te siene wees en selfs ’n kosklas aanbied.
Venetia Rose, ’n jong professionele klassieke sanger, sal die mense ook met haar stem betower.
Daar sal soos oudergewoonte verskeie uitstallers met uitsoekitems te kies en te keur wees.
Die besoekers sal kieskeurig kan kibbel oor pryse en na hartelus Kerskgeskenke uitsoek.
Kersgeskenke, handgemaakte presente, glühwein, kaas, wyn, eetgoed, blomme, vleis en nog meer sal te koop wees.
“Die visie van Spioenkop is om so ‘n bietjie van die Kaap platteland toe te bring, asook om nou en dan eg Kaapse Saterdaemarkte aan te bied,” het me. Jani Cronjé, die organiseerder, gesê.
Toegang beloop R50 per volwassene en R10 vir kinders en leerders.





