Local newsNews

Ouers van Teagan van Wyk skenk sy speelgoed en kleurtjies vir goeie doel

Me. Van Wyk het geskryf dat hulle weet Teagan sal bly wees dat hierdie goed ’n glimlag op ander kinders se gesigte sit en dat die klere wat hy nie meer gaan dra nie, ander warm sal hou.

ERMELO – Vir die ouers van Teagan van Wyk, bekend as “Klein Superman” wat op 16 November sy stryd teen die seldsame kinderkanker, neuroblastoom, verloor het, het die nuwe jaar met ’n hartseer taak begin, en dit is om al sy speelgoed en besittings op te pak.

Sy ma, me. Maggie van Wyk het op Teagan se Facebook-bladsy geskryf dat hulle op 1 Januarie begin het om hul seuntjie se besittings uit te sorteer en al sy gunstelingspeelgoed in stoorhouers te pak.

Hul beoog om ’n vertoonkas te laat bou waarin dié spesiale herinneringe bewaar sal word.

“Hy was so geseënd en so geliefd, nou is dit tyd om ander ook te seën, daarom het ons besluit om van sy goedjies aan minderbevoorregte kinders te skenk,” het me. Van Wyk gesê.

“Emosioneel sal ons dit nie self kan doen nie, maar ek het Care Bears gevra om te help om dit namens ons aan mense wat dit nodig het, te skenk.”

Me. Van Wyk het geskryf dat hulle weet Teagan sal bly wees dat hierdie goed ’n glimlag op ander kinders se gesigte sit en dat die klere wat hy nie meer gaan dra nie, ander warm sal hou.

“Totdat jy nie jou kind se hele lewe in plastiekhouers moet oppak, en die res van sy of haar goed moet laat gaan nie, sal mens nie die pyn wat daarmee saamgaan, verstaan nie.”

Me. Marelize Brits van Care Bears het Teagan se speelgoed by me. Van Wyk ontvang en hulle beoog om ’n projek ter herinnering van Teagan te loods.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button