Vreugde volg na Stark-egpaar van Ermelo se smart
Saam met die nuwe hoofstuk in hul lewe is die ouers steeds besig om die dood van Isabella te verwerk, en me. Stark sê party dae is makliker as ander.
ERMELO – Sowat vier maande nadat mnr. Joshua Stark en sy vrou, Monica, se dogtertjie, Isabella (1), oorlede is, het hulle op 15 Januarie hul nuwe babadogtertjie in die wêreld verwelkom.
Anastasia Kim Stark is in die Mediclinic Highveld in Trichardt gebore.
Volgens me. Stark het sy en haar man gemengde gevoelens tydens die geboorte ervaar.

“Ons was maar baie gespanne, maar ook opgewonde, en het gevoel ons is geseënd om haar te verwelkom,” het me. Stark gesê.
Sy sê dat hulle net die beste vir Anastasia wil hê en dat sy altyd die Here in haar lewe sal ervaar.
Saam met die nuwe hoofstuk in hul lewe is die ouers steeds besig om die dood van Isabella te verwerk, en me. Stark sê party dae is makliker as ander.

Hulle het onlangs ‘n onderneming wat klere maak, Bella Boudjies, ter herinnering aan Isabella begin.
“Ons wil seker maak dat sy nooit vergeet sal word nie, en ons gebruik ook die onderneming om van die rekeninge wat ons nog het, te betaal.”
Hul droom vir die firma, is om later ook ander kinders en families te kan bystaan wat deur ‘n tragedie geraak word.



