Ermelo Wieleskou Karnaval beloof groot vermaak vir oud en jonk
Die hekke sal op Vrydag 4 Maart om 14:00 en Saterdag 5 Maart om 08:00 open, en skougangers kan uitsien na verskeie kosstalletjies en uitstallings.
ERMELO – Die gemeente van die Hervormde Kerk Ermelo-Suid bied op 4 en 5 Maart hul eerste Wieleskou Karnaval by die vliegklub aan.
Een van die organiseerders, mnr. Peet Fourie, het aan Hoëvelder gesê dat die idee agter dié karnaval in 2019 reeds tydens die Pienkbal Gholfkompetisie se 14de putjie sy ontstaan gekry het.
Alhoewel Covid-19 aanvanklik hul planne in die wiele gery het, het hulle dit nou tot ‘n volwaardige karnaval ontwikkel.
Die hekke sal op Vrydag 4 Maart om 14:00 en Saterdag 5 Maart om 08:00 open, en skougangers kan uitsien na verskeie kosstalletjies en uitstallings.
Die Hoëveldse Veteraanmotorklub, motorhandelaars van Ermelo, TWK, plaasimplemente en fietse sal by die skou te siene wees.
Daar sal ook ‘n “Show and Shine”-kompetisie en klankkompetisie aangebied word.
‘n Pretpark sal vir groot vermaak vir die jong mense sorg, terwyl die ouers iets kan geniet om die dors te les.
Die country-legendes Clive Bruce, Barbara Ray en Jody Wayne sal saam met verskeie plaaslike kunstenaars die skougangers vermaak.
Kaartjies sal teen R20 per volwasse en R10 per kind by die hekke verkoop word.
Vir meer inligting, skakel mnr. Fourie by 083 448 2996, mnr. Jaco van der Merwe by 082 577 3614 of mnr. Drikus Boers by
076 882 7755.



