Community galleriesGalleriesLocal newsNews

Kry jou stukkie Italiaanse pizza op Ermelo

“Ons het die eerste dag 17 pizza-bestellings ingekry, die tweede dag 23 en die Vrydag het ons 47 gemaak.”

ERMELO – Met geen inkomste tydens die inperkingstydperk en spaargeld wat stadig maar seker uithardloop, het mnr. Bernard Barnard en sy vrou, me. Lirika, hul passie in ‘n klein onderneming wat hul wildste drome oortref het, omskep.

“Ons het gereeld tydens inperking gesien hoe mense op sosiale media noem dat hulle lus vir pizzas en ander wegneemetes is, en dit het ons, wat gereeld self ons eie pizzas maak, aan die dink gesit,” het mnr. Barnard gesê.

Gedurende een van die gesin se pizza-aande het mnr. Barnard vir sy vrou gevra of sy nie dink hulle dit moet begin verkoop nie.

Sonder om te skroom het sy ingestem en die twee het koppe bymekaargesit en beplan.

Hulle het die winkels ingevaar op soek na die beste gehalte bestanddele.

“Ons het die eerste dag 17 pizza-bestellings ingekry, die tweede dag 23 en die Vrydag het ons 47 gemaak.”

Van daardie dag af het die gesin nie weer teruggekyk nie en net volstoom met hul onderneming voortgegaan.

Hul eerste tuisgemaakte Italiaanse pizzas is in die gesin se huisoond gebak.

Die gebou waaruit mnr. Bernard Barnard en sy vrou, me. Lirika, die heerlikste pizzas bak.

Elke bestanddeel van die kaas tot die deeg is geweeg om te verseker dat hul pizzas tot op die fynste besonderhede eenders is.

“Ons het soveel pizzas gemaak dat ons die oond uitgebrand het, waarna ons twee oonde verniet gekry het by mense wat dit nie meer gebruik het nie.”

Een van die oonde is reggemaak en hulle was weer volstoom aan die gang.

“Die klein tuisgebaseerde onderneming het in 2020 ontstaan en min het ons geweet dat ons slegs 20 maande later só sou uitbrei dat ons ‘n gebou sou benodig.”

Die gesin se kombuis het te klein vir die hoeveelheid bestellings wat hulle daagliks ontvang het, geword. Hulle het ‘n kans gevat en by die eienaars van die Zandsteen-gebou in Robbertsonstraat gevra of daar dalk plek vir hulle beskikbaar was.

Tydens die besoek aan die gebou het hulle op die terrein rondgestap. Die eienaar het aangebied om vir hulle ‘n plek aan te bou.

“Dit is vasgemaak en daar is ooreengestem om ook ons eie pizza-oond te bou. So het ons vinnig begin uitkyk vir die nodige toerusting, en hier staan ons amper twee jaar later.”

Die gesin se liefde en passie vir unieke kos en ingesteldheid op perfeksie is hul dryfkrag agter die onderneming.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button