Help om dogters in die skool te hou
Die groep het by verskeie skole in al sewe dorpe in Msukaligwa navraag gedoen oor die behoeftes daar en het gesê dat hulle geskok was oor die getal dogters wat hulp benodig.
ERMELO – Die vroue van Ermelo Care Bears het onlangs ’n projek geloods waarmee hulle beplan om sanitêre doekies vir dogters op skool in te samel.
Volgens me. Julia Basson, een van die stigters van Care Bears, het hulle besluit om dié projek te begin om meisies wat skool moet misloop omdat hulle nie doekies het nie, te help.
Hulle beplan om die skenkings op 16 Junie, Jeugdag, aan die behoeftige dogters uit te deel.
Die groep het by verskeie skole in al sewe dorpe in Msukaligwa navraag gedoen oor die behoeftes daar en het gesê dat hulle geskok was oor die getal dogters wat hulp benodig.
“Ons wil graag by alle ondernemings in die dorp pleit om by die projek betrokke te raak, om sodoende die dogters wat weens hul maandelikse menstruale siklus gedwing word om skooldae mis te loop, te help,” het me. Basson gesê.
Inwoners kan geld skenk wat dan gebruik sal word om die sanitêre doekies aan te koop, of hulle kan dit self gaan koop om te skenk.
Vir die projek om die dogters vir sowat drie maande te help, het me. Basson gesê dat sy sowat 300 000 pakke sanitêre doekies benodig.
Vir geldelike donasies kan inwoners die volgende bankbesonderhede gebruik: Ermelo Care Bears NPC, FNB, takkode: 255355, tjekrekening, rekeningnommer: 63000309723.
Diegene wat wil help kan die sanitêre doekies by Body Strong Gymnasium afgee of me. Basson by 060 905 7150 skakel.



