Pieter Kruger laat groot leemte agter
Hy was volgens sy familie altyd bereid om mense in nood te help en niks was vir hom te veel moeite nie.
ERMELO – Mnr. Pieter Phillipus Kruger se goeie hart en oop en helpende hand sal deur almal op die dorp wat hom geken het, gemis word.
Hy was beter bekend as Piet Prop, ‘n bynaam wat die gemeenskap vir hom gegee het omdat hy vir sowat 40 jaar die eienaar van Kruger Propshaft Centre was.
Mnr. Kruger is op 6 September 1949 in Breyten gebore, maar het op Ermelo grootgeword.
Hy was die oudste van nege kinders, en sy wortels was stewig in die dorp gevestig.
Mnr. Kruger het sy eerste vrou en drie kinders in ‘n tragiese ongeluk verloor, en is later in 1976 met me. Santa Kruger getroud.
Uit dié huwelik van 44 jaar is hy weer met twee seuns en ‘n dogter geseën.
Mnr. Kruger het tussen 1976 en 1983 op verskeie myne in die Ermelo-omgewing gewerk, waarna hy besluit het om die Propshaft Centre in November 1983 by mnr. Jan Venter oor te koop.
Dié onderneming het hy vir die eerste 10 jaar op die oorspronklike perseel in Naudestraat bedryf, en daarna in Tweedestraat.
“Pieter was alombekend as ‘n regverdige man met ‘n goeie hart en ‘n oop, helpende hand,” het sy vrou vertel.
Hy was volgens sy familie altyd bereid om mense in nood te help en niks was vir hom te veel moeite nie.
“Hy was ‘n man wat goed vir sy gesin gesorg het, en wou altyd seker maak dat hy ons met ‘n goeie nalatenskap agterlaat.”
Mnr. Kruger het sy een seun, mnr. Marius, ná matriek by die onderneming laat aansluit, en so het Propshaft Centre na Kruger Propshaft Centre verander. Dis ook hier waar hy sy seun opgelei het om dié maatskappy soos glad te laat hardloop.
Pieter Kruger se naam en onderneming sal voortleef deur sy familie wat sy nagedagtenis in die gemeenskap lewendig hou.
‘n Roudiens vir mnr. Kruger is op Dinsdag 31 Mei vanuit die AP Kerk Hoëveld-Ermelo aangebied.
Hy laat sy vrou, me. Santa, kinders, mnr. Riaan en me. Rika Kruger, mnr. Marius en me. Ruanette Kruger, me. Nadia van Eeden en haar man, mnr. Sarel, asook vier kleinkinders agter.



