News

Oud-Errie verwerf PhD aan Tukkies

Oud-Errie Kruger Uys het sy PhD aan die Universiteit van Pretoria voltooi met navorsing wat fokus op nuwe maniere om Afrikaanse letterkunde in die moderne klaskamer aan te bied.

ERMELO – Dr Kruger Uys, ‘n voormalige leerling van Hoërskool Ermelo wat in 2012 gematrikuleer het, het sy doktorsgraad in Geestes-wetenskaplike Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf.

Sy proefskrif, getiteld “’n Verkenning van die transmedianarratief in Afrikaanse Hoërskoolletterkunde”, ondersoek hoe voorgeskrewe Afrikaanse letterkundetekste oor verskillende media heen funksioneer en hoe dit binne die klaskamer aangewend kan word om leerlingbetrokkenheid en kritiese denke te bevorder.

Die navorsing sluit aan by die behoeftes van die moderne klaskamer, waar leerlinge se

maniere van betekenisvorming voortdurend verander en nie altyd aanklank vind by tradisionele onderrigmetodes nie.

Uys is tans dosent in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, waar hy betrokke is by onderrig en navorsing. Hy neem ook gereeld deel aan akademiese kongresse waar hy sy navorsing aanbied.

Voordat hy die akademiese wêreld betree het, het hy Afrikaans op hoërskool onderrig. Volgens hom beïnvloed dié ervaring steeds sy benadering tot onderrig en navorsing.

Uys beskou sy skooljare as ‘n belangrike grondslag vir sy akademiese ontwikkeling en is dankbaar teenoor al sy oud-onderwysers, en veral sy Afrikaansonderwyser, vir die rol wat hulle daarin gespeel het.

Hoërskool Ermelo is trots op Uys se prestasie en wens hom geluk met sy doktorsgraad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button