Plaaseienaar in Sheepmoor se hel eindig met arrestasies van agt
Die inhegtenisnames volg na maande se beweerde teistering en ontwrigting op die plaas, wat na bewering in Julie vanjaar begin het
Agt persone tussen die ouderdomme van 21 en 39 is op 14 Oktober in verband met ’n reeks voorvalle op die Taaiboschspruit-plaas in hegtenis geneem.
Die inhegtenisnames volg na maande se beweerde teistering en ontwrigting op die plaas, wat na bewering in Julie vanjaar begin het.
Volgens die polisie het die verdagtes ontwrigting veroorsaak deur plaaspersoneel te terroriseer en hulle werk te onderbreek, veral terwyl hulle probeer het om ’n beskadigde heining te herstel.
Die verdagtes het na bewering geëis dat die plaaseienaar ’n vergadering tussen hom, hulle en die Departement van Grondsake reël om hul griewe aan te spreek.
Die ontwrigtinge het tot ernstiger optrede gelei, insluitend brande wat op die eiendom gestig is.
Dit het volgens die polisie die eienaar genoop om die saak by die owerhede aan te meld.
Die verdagtes is daarna van openbare geweld, intimidasie en kwaadwillige eiendomsbeskadiging aangekla.
Die polisie het aangedui dat verdere klagtes moontlik later bygevoeg kan word namate die ondersoek vorder.
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. dr. Zeph Mkhwanazi, het die publiek aangespoor om vreedsame oplossings vir hul probleme te soek deur toepaslike kanale te volg, en beklemtoon dat geweld nie geskille sal oplos nie.
Die ondersoek duur voort.



