Ermeloërs raadop oor dienste by lisensiëringkantore
Selfs dié wat deur derde partye gehelp word, is nie van lang wagperiodes gevrywaar nie.
ERMELO – Die dorp se inwoners kan niks minder as lang toue en ure se wag by die voertuiglisensiëringsafdeling verwag wanneer hulle hul voertuiglisensies wil hernu nie.
Baie mense het gevolglik begin om derde partye te betaal wat hierdie geleentheid benut om geld te verdien deur namens hulle in die rye te staan.
Hoëvelder het verlede week met enkele verteenwoordigers van hierdie derde partye gesels.
Uit vrees dat amptenare hul sake kan bemoeilik, het hulle op anonimiteit aangedring.
Volgens een van die verteenwoordigers is daar sowat ses persone wat soortgelyke dienste aanbied, wat dui op ‘n groot aanvraag.
Hulle vra tussen R150 en R300 per persoon om namens kliënte in die ryte staan.

Daar is egter ‘n ooreenkoms met die personeel by die lisensiekantoor dat hulle per dag slegs vir een individu en een motorhandelaar in die ry mag staan – elk met ‘n beperking van vyf transaksies.
“Ek en ander verteenwoordigers begin soms al om 01:00 in ons voertuie wag, omdat ons weet dat daar net ‘n handjievol mense per dag gehelp word,” het een van hulle gesê. “Die kantore is van Maandag tot Donderdag tot 15:00 oop en Vrydae sluit hulle reeds om 13:00, daarom is dit noodsaaklik om vir ons kliënte ‘n goeie plek in die ry te kry.”
Volgens een verteenwoordiger word die diens wat hulle lewer, deur sommige met gemengde gevoelens beskou.
“Sommige mense skel ons uit as uitbuiters en beskuldig ons daarvan om geld onder die tafel te gee om die werk gedoen te kry. Ander is baie bly oor ons diens omdat hulle nie self in die ry hoef te staan, verlof hoef te neem, of hul bloeddruk op te jaag nie.
Ons doen dit om ‘n inkomste te genereer. Sommige van ons doen dit omdat ons probleme het wat dit onmoontlik maak om ander werk te kry.”
Volgens die verteenwoordiger is dit ‘n eerlike manier om ‘n inkomste te verdien, sonder om op die hoek te staan en vir geld te bedel.
Selfs dié wat deur derde partye gehelp word, is nie van lang wagperiodes vrygespreek nie.
‘n Kliënt van ‘n derde party het aan Hoëvelder vertel hoe hy om 07:30 tweede in die ry was.
Die kantore maak omstreeks 08:30 oop, maar die stelsel was van lyn af.
Ons moes tot 09:20 wag voordat dit weer aanlyn gekom het,” het hy verduidelik. Uiteindelik kon hy om 10:15 vertrek – ná ‘n wagperiode van bykans drie ure.
‘n Verteenwoordiger het ook beweer dat onreëlmatige optrede binne die kantore nie ongewoon is nie.
Lees die volledige berig in Hoëvelder



