AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-takke sit hand by
Dit was ’n bedrywige maand vir AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-takke, waar hulle verskeie selfdoen-aksies uitgevoer het.
CHRISSIESMEER – AfriForum se Ermelo- en Chrissiesmeer-takke se hande het gedurende Oktober vir niks verkeerd gestaan nie.
Hulle het alles in die stryd gewerp om te verseker dat beide dorpe verbeter word.
Die Chrissiesmeer-tak het vroeër vandeesmaand op ’n veldbrand gereageer wat op Laerskool Chrissiesmeer se gronde uitgebreek het, en gehelp om saam met plaaslike boere en lede van die gemeenskap die brande onder beheer te bring.
Die buurtwag het verlede jaar ’n vuurvegter aangekoop om juis in hierdie verband die gemeenskap te kan bystaan.
Ermelo se AfriForum-tak het ook twee watertenks aan Laerskool Breyten geskenk om bystand te bied met die voortdurende watertekorte wat die dorp lamlê.
Die tenks sal nou geïnstalleer word om meer reserwes aan die skool te bied vir tye wat daar watertekorte heers.
LEES OOK: Mpumalanga-buurtwagte patrolleer hoofweë
Daar sal ook later ’n waterpunt vanaf die tenks vir die gemeenskap opgerig word. Soortgelyke waterpunte is ook in beplanning vir Ermelo en Chrissiesmeer.
Die Chrissiesmeer-tak het ook sy maandelikse skoonmaakprojek voortgesit en 26 sakke rommel uit die dorp verwyder.
Dit bring die totaal vandat die projek begin is tot op 85 sakke. Hierdie rommel sou, indien die projek nie van stapel gestuur is nie, waarskynlik net om die dorp rondgestrooi geword het.
“Deur kleiner probleme die hoof te bied is net die begin van AfriForum se pogings om gemeenskappe by te staan.
“Die gemeenskap begin self eienaarskap neem en een van die dae sal selfs die groter probleme met groot sukses getakel word,” het Millicent van den Heever, die Chrissiesmeer-buurtwag se leier, gesê.