Local news

Baba dogtertjie wat in veld gevind is – deurtrek met insekbyte, baat uit geldinsameling in Ermelo

Hulle sal Vrydag 27 Januarie vanaf 09:00 tot 18:00 by Four Sisters Butchery wees om geld in te samel vir die twee babas, en dan weer die Saterdag, vanaf 09:00 tot 15:00 waar hulle ook geld wil insamel vir ’n man wat onlangs oorlede is, en vir wie hulle finansiële ondersteuning vir begrafnisuitgawes wil bied.

ERMELO – Hoëvelder het in sy laaste uitgawe oor baba Haylie, wat op 4 Januarie na nét sewe maande gebore is, berig.

Petro Bosch, Haylie se mamma, het pre-eklampsie gehad, ’n gevaarlike swangerskap-komplikasie wat aan hoë bloeddruk gekenmerk word.

“Tot en met die laaste ondersoek het alles heel goed verloop, maar net soos met die vorige swangerskap, is daar gevind dat die baba se groei belemmer is en sy kleiner was as wat sy moes wees,” het Petro gesê.

Tydens Bosch se vorige swangerskap was die fetus se groei sódanig belemmer, dat sy haar baba aan die dood moes afstaan.

Volgens die egpaar het die dokter genoem dat Haylie se longe redelik sterk is, maar dat sy ten minste twee maande in die hospitaal moes deurbring totdat sy gesond genoeg is om ontslaan te word.

Juliet Basson van die Ermelo Care Bears, wat skenkings vir die gesin, wat finansieel onder druk is, aangevra het, het onlangs gesê dat Haylie se infeksietelling baie hoog is.

Sy is volgens haar op drie verskillende antibiotika geplaas, en op 16 Januarie het sy met ‘n suurstoftekort gesukkel as gevolg van die pypies wat gebruik is, wat te groot vir haar was.

Basson het op 19 Januarie gesê haar toestand is beter en dit blyk dat die antibiotika werk, en dat sy bietjie gewig opgetel het. Sy weeg tans 860g (met haar geboorte het sy 730 g geweeg).

Werner en Petro Bosch. Foto | Verskaf

Die Care Bears het intussen besluit om hamburgers teen R30 elk te verkoop om geld vir haar en nog ’n babadogtertjie wat in ’n veld in Mkhondo opgetel is, in te samel.

Volgens Basson is die dogtertjie in die intensiewesorgeenheid in Mkhondo Hospitaal opgeneem en was oortrek van insekbyte. Sy is ook erg deur die son gebrand en weeg slegs 1.3 kg.

Basson het die inwoners gevra om hul hamburgerverkope te ondersteun sodat hulle finansiële steun aan albei babas kan bied.

Hulle sal Vrydag 27 Januarie vanaf 09:00 tot 18:00 by Four Sisters Butchery wees om geld in te samel vir die twee babas, en dan weer die Saterdag, vanaf 09:00 tot 15:00 waar hulle ook geld wil insamel vir ’n man wat onlangs oorlede is, en vir wie hulle finansiële ondersteuning vir begrafnisuitgawes wil bied.

“Ons gaan ook virtuele burgers verkoop wat aan die kinderhuis en aftreeoord geskenk sal word.”

Basson het die gemeenskap vir al die skenkings wat reeds aan Hailey gemaak is, bedank.

Enige verdere donasies kan by Camdenlaan 57 afgelaai word, of vir meer inligting oor die insamelingsprojek, skakel Silvija Breytenbach by 082 905 7272 of Basson by 060 905 7150.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button