VIDEO – Ermelo-seuntjie dans en sing ondanks groot operasies
”Hy is ’n regte reënboogkind.” sê sy mamma Angelique Chawner.
Shane en Angelique Chawner het aan die begin van die jaar hulle seuntjie, Sion, op die ouderdom van een jaar en vier maande na ‘n pediater in Trichardt toe geneem om hom te behandel vir sy longontsteking waarvan hy eenvoudig nie gesond wou word nie.
Sion is op 35 weke gebore. Ná 15 jaar en agt miskrame kon die egpaar met oorvloed van liefde en dankbaarheid hulle eerste seuntjie vashou en koester.
Op een jaar en vier maande het die Chawner-egpaar uitgevind klein Sion het twee gaatjies in sy hart.
“Ons was baie emosioneel, kwaad en terselfdertyd geskok,” sê Angelique toe hulle die diagnose gehoor het.
As ouers van ‘n eersteling was hulle positief oor die operasies, omdat hulle geweet het dat dit hulle kind sou red, maar hulle sê dat hulle nie aan die prosedures kon dink nie. “Ons het net gebid en ons volle vertroue in die dokters en die Here oorgelaat,” sê die egpaar.
Sion het ‘n aar wat nie met geboorte toegegaan het nie. Die aar was ook abnormaal groot. Dit is op 4 April tydens ‘n operasie toegebind.
Sion het ook ‘n gat tussen sy hartkamers wat veronderstel is om toe te gaan, maar met sy tweede opvolgkonsultasie het die dokters besef dat die drukking in Sion se longe te hoog is.

Die dokters het saam besluit dat die risiko te hoog is, en Sion is op 4 Oktober opgeneem vir ‘n opehartoperasie. Sion se are vanaf sy longe na sy hart was geblok, en dit het veroorsaak dat hy lae suurstofinhoud in sy bloed het.
Die Chawner-gesin het hierdie moeilike tye oorkom deur dit dag vir dag te vat, en het ondersteuning van familie, vriende en ‘n maatskaplike werker ontvang.
Klein Sion het al die operasies goed hanteer, maar sy ma sê dat hy wel angstigheid ontwikkel het omdat sy ouers nie die hele tyd by hom in die hoësorgeenheid kon wees nie.
Sion is op Maandag 23 Oktober vir sy eerste opvolgkonsultasie, en die dokter was baie bly om te sien hoe goed hy herstel het.
Angelique sê dat Sion eintlik op TikTok bekend is met sy video waar hy Appel se enkelsnit “Foute” sing.
@highvelder Sion Chawner (2) wys sy danspasies op sy gunsteling @🦌🔥🍎Appel🍎🔥🦌 liedjie. Chawner het onlangs ‘n opehart operasie ondergaan. Sion het twee gaatjies in sy hart maar dit keer hom nie om sy hart uit sing of te dans nie. Alle beeldmateriaal is verskaf deur @Angelique Chawner #SAMA28 #highveldernews #caxtonmedia #highveldernewspaper #siondans #appelmusiek #afrikaans #afrikaanstiktoks
“Hy is baie lief vir musiek. Sy dag is nie volmaak as hy nie eers gedans en musiek geluister het nie,” sê Angelique.
Lees die volledige berig in die week se Hoëvelder.



