Ermelo-gesin neem afskeid van liefdevolle pa
In die tyd voor sy beroerte het hy weer begin om beeste te verkoop.
Theuns van Niekerk is op 12 Desember skielik oorlede nadat sy gesondheid skielik verswak het.
Dié liefdevolle man en pa van drie seuns het in Junie ‘n ernstige beroerte gehad, wat die regterkant van sy lyf verlam gelaat het en sy spraak aangetas het.
Sy vrou, Chantelle, het gesê sy het op die aand van 13 Junie skielik wakker geword toe haar man vreemde geluide begin maak het.
“Ek het eers gedink hy droom dalk en dat hy in sy slaap mompel, maar nadat ek die bedlampie aangeskakel het, het ek dadelik besef dat daar groot fout is,” sê sy.
Sy het die ambulans ontbied, waarna hy in die Mediclinic Ermelo opgeneem is.

Foto | Wayne van der Walt
Met fisio-, swem- en spraakterapie het hy redelik goed gevorder en was hy op die herstelpad, maar die skielike terugslag het sy gesondheid verswak.
“Ons het alles in ons vermoë probeer om sy beterskap te verseker – doktersbesoeke, medikasie en terapie,” het Chantelle gesê.
Theuns is op 20 Januarie 1981 gebore en het in 1999 aan die Ligbron Akademie vir Tegnologie gematrikuleer.
Ná skool het hy sy loopbaan met beesboedery begin en later ook in die konstruksiebedryf betrokke geraak.
VORIGE BERIGGEWING: Skielike beroerte ’n harde slag vir Ermelo-gesin
Hy het sy eie vervoeronderneming op die been gebring, wat hy tydens Covid-19 moes sluit.
In die tyd voor sy beroerte het hy weer begin om beeste te verkoop.

Foto | Wayne van der Walt
Chantelle sê dat hy sedert sy laerskooldae op Ermelo gewoon het. “Hy was ‘n liefdevolle man en het gereeld sy wysheid met ons gedeel.”
Theuns het graag kos gemaak en was lief vir braai. Hy het dit geniet om te gaan jag en diepseevisvang, en sy familie was vir hom die belangrikste in sy lewe.
“Hy was die wonderlikste pa waarvoor die kinders ooit kon vra. Hy was streng, maar altyd regverdig, en het vir sy kinders geleef.”
Theuns laat sy vrou, drie seuns, Tiaan, Dillan en Franco, asook sy broer, Gerhard, agter.
‘n Begrafnis vir Theuns sal op 20 Desember om 11:00 vanuit die NG Moedergemeente gehou word.
“Ons harte is stukkend, maar ons weet hy rus uiteindelik sonder pyn en lyding.”



