Local news

Johanco Jacobs van Ermelo moet binnekort weer operasie ondergaan

Op 23 Oktober 2023 het die kleinding sy eerste operasie ondergaan.

ERMELO – Johanco Jacobs moet binnekort weer ’n operasie ondergaan.

Sy ouers het kort na sy geboorte gehoor dat die etmoïedebeentjie in sy skedel nie ten volle ontwikkel het nie, met die gevolg dat ’n deel van sy brein deur die gat daarin steek.

Johanco is op 9 Maart op 37 weke en drie dae in die Ermelo Mediclinic gebore.

“Kort ná sy geboorte was hy baie blou en sy suurstofvlakke was laag. Hy moes vir bykans die hele dag in die broeikas lê. Nadat sy suurstofvlakke gestabiliseer het, is hy deur die pediater ondersoek, en ek kon hom eers die aand vir die eerste keer vashou,” het sy ma, Janca, gesê.

Ná drie dae in die hospitaal is hulle ontslaan, maar Johanco het steeds gesukkel om te drink en het baie gewig verloor.

Met verdere ondersoek by ’n plaaslike kliniek is die gesin terug na die pediater verwys, nadat die suster opgemerk het dat Johanco ’n gesplete verhemelte het.

Die pediater het ’n CT-skandering laat doen wat die gesplete verhemelte asook die beentjie wat ontbreek bevestig het, en Johanco is die volgende dag na die Garden City Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Op 23 Oktober 2023 het die kleinding sy eerste operasie ondergaan.

Johanco Jacobs. Foto | Janca Jacobs

Die dokters het sy sagte verhemelte herstel en spierrekonstruksie gedoen.

Nou met sy tweede operasie, wat vir einde van die jaar by die Wilgers Hospitaal in Pretoria beplan word, probeer die gesin reeds die nodige fondse insamel om die beste moontlike sorg vir hul seun te kry.

Janca sê dat hulle op 28 April ’n opvolgbesoek by dr. Sanet Birthey het wanneer hulle die datums sal bevestig.

Tydens die operasie word daar beplan om die unilaterale herstelling van sy harde verhemelte uit te voer.

Indien enigiemand ’n skenking wil maak, kan die volgende rekening gebruik word: Pieter Stoffberg Ingelyf Trust; FNB Ermelo; takkode: 370344; trustrekening, rekeningnommer: 6209215326; verwysing – Joh54/1.

Lees die volledige berig in die Hoëvelder.

Related Articles

 
Back to top button