Local news

Ermeloër vry van verslawing na jare se dwelmmisbruik

Die verslawing het verskeie negatiewe gevolge op sy liggaam agtergelaat, sy tande het die slegste daarvan afgekom.

ERMELO – Johann Wessels het na ’n jare lange stryd met dwelms sy lewe omgedraai, en kan vandag spog dat hy al 15 maande nugter is.

Nou wil hy ander teen die gevare en trauma van dwelmmisbruik waarsku.

’n Busrit na ’n rehabilitasiesentrum op 3 Januarie 2022 het sy lewe verander, maar voor hy tot op dié punt gekom het, het Wessels sy laagste punt bereik.

Hoe dit begin het

Hy het vertel dat hy in 2009 gematrikuleer het, en soos baie 18-jariges het hy alkohol gedrink, maar dat dit nooit vir hom ’n probleem was nie.

Hy het egter baie gewonder hoe dit voel om ‘hoog’ te wees, en so het hy begin om dagga te rook.

“Ek het nie daarvan gehou nie. Ek het op films gesien hoe mense kokaïen gebruik, en dit het my nuuskierigheid geprikkel. TV beeld altyd net die fun van iets uit en reflekteer nie die ware effek van hoe dwelms jou lewe kan vernietig nie,” het hy gesê.

Op 22-jarige ouderdom het hy vir ’n paar jare kokaïen en metkatinoon begin gebruik, maar voor lank was dit nie meer vir hom genoeg nie, en het hy na iets anders begin soek.

“Ek het vir die eerste keer tik [metamfetamien] probeer, en dit was asof niks anders meer saakgemaak het nie. Ek was verslaaf.”

Impak van die verslawing op sy lewe

Gedurende dié tyd het Wessels alles wat hy gehad het verkoop en begin steel om te verseker dat hy sy fix kon kry.

Hy het ook sy werk van agt jaar verwaarloos en was vir ’n tydperk van sy ouers afhanklik om te kry wat hy nodig gehad het.

“Ek moes baie lieg en bedrieg. Dit het my nie gepla nie; ek moes net my dwelms kry, anders kon ek nie eers uit die bed uit opstaan nie. Ek het werk gekry en dit weggegooi.”

Sy ouers het geweet waarmee hy besig is, en na verskeie pogings om hom te probeer help het hulle moed opgegee.

Wessels sê dat hy hulle nie blameer nie. Hy het nie gedink dat hy hulp nodig het nie en wou nie gehelp word nie.

Na sy 32ste verjaardag het hy tydelike werk vir sy swaer gedoen. Dié het hom in ’n ernstige gesprek gesê het dat hy besig is om sy lewe weg te gooi, en dat net hy die besluit kan maak om te verander.

Hy het Wessels verseker dat sy familie daar sal wees om hom te help en te ondersteun wanneer hy eendag gereed is om sy lewe te verander.

Slegs twee weke na hierdie gesprek was Wessels platsak en kon hy nie enige dwelms bekostig nie.

Reg om beheer te vat van sy lewe

Die onttrekkingsimptome het hom siek en swak gehad. Hy kon net die woorde “Vat my rehab toe” vir sy pa gesê kry.

Hy sê nadat hy by die rehabilitasiesentrum aangekom het, hy die ergste twee weke van sy lewe ervaar het.

Hy kon nie uit die bed uit opstaan nie en kon ook niks eet of drink nie.

Nuwe mens

“Teen die begin van die derde week, het ek een oggend wakker geword en anders gevoel. Ek het die son gesien skyn, ek het mense hoor lag, die voëls hoor sing; ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Ek het opgestaan, gaan stort en soos ’n nuwe mens gevoel.”

“Ek het weer mens geword, ek het my lewe vir die Here gegee en Hom gevra om hierdie siekte van my af weg te neem. Hy het my gehoor en my van my verslawing verlos.”

Na sy dwelmverslawing het Wessels met erge tandpyn gesukkel, wat hy na dié drie weke by die sentrum moes laat dokter. In die week wat hy by die huis was, het hy die versoeking weerstaan om weer te gebruik.

Hy het na ’n ander rehabilitasiesentrum gegaan waar hy geleer het om deur die gevoelens en versoeking van ’n verslaafde te werk.

Na dié agt weke kon hy met alle eerlikheid sê hy is genees en dat dwelms nie meer ’n houvas op sy lewe gehad het nie.

“Ek het weer my ouers terug. Ons verhouding, wat nie eers meer bestaan het nie, is herstel. Ek kon met hulle praat en kon sien hulle is trots op my, en dat hulle bly is dat hulle seun terug is. Ek het weer my familie teruggekry.”

Hy sê dat hy sy ouers vroeër baie seergemaak het, maar dat hy dit toe nie kon sien nie. Hy het gevoel dat hulle dinge sien wat nie bestaan nie en net oorreageer.

“Ek sal nooit die seer wat ek my familie gemaak het terug kan vat nie, maar ek kan hulle wys dat ek weet wat ek verkeerd gedoen het en dat ek dit nie weer sal doen nie. My familie was elke stap saam met my om my te ondersteun en te help waar hulle kan.”

Die verslawing het verskeie negatiewe gevolge op sy liggaam agtergelaat, en Wessels sê dat sy tande die slegste daarvan afgekom het; hulle breek gereeld en val uit.

As hy nou terugkyk is dit vir hom skrikwekkend om te weet hoe maklik dit is om dwelms op die dorp te koop, en dat kinders dit op al hoe jonger ouderdomme begin gebruik sonder dat hulle werklik weet van die skade wat dit aanrig.

Sy dag-tot-dag het baie verander vandat hy van die verslawing ontslae geraak het, en hy is dankbaar dat hy elke dag met trots kan opstaan en gaan werk.

Op 3 Mei sal hy al vir 486 dae, of 16 maande, skoon wees.

“Ek tel elke dag wat ek skoon is. Elke dag is vir my ’n oorwinning, want ek weet hoe gelukkig ek is om uit verslawing te kan wees.”

Dit is vir hom belangrik om sy storie te deel, omdat hy vir ander verslaafdes wil wys dat daar wel ’n uitweg is en dat dit moontlik is om gesond te word. “As daar mense is wat met verslawing sukkel en daaruit wil kom: moet nooit opgee nie. Dit is dit werd om skoon te kom, Jy is dit werd! As daar ouers of families is wat met ’n geliefde met ’n verslawing sit, moenie moed verloor nie.

Wees net daar vir hulle die dag wat hulle hulp vra.”

Waarskuwingstekens

Tekens waarvoor ouers kan uitkyk, sluit in paranoia, min slaap, te veel slaap, onnetheid, altyd vir geld vra, en sere op die gesig, arms of hande.

Indien enigiemand meer raad wil hê of by die weeklikse NA-vergaderings wil aansluit, kan hulle Wessels by 082 573 6881 skakel.

“Jy kan hieruit kom. Ek en al die ander mense in die NA-vergaderings is ’n bewys daarvan dat dit moontlik is.”

Related Articles

 
Back to top button