Boere spreek kommer uit oor aansoek vir aardgaseksplorasiereg
Voorgestelde werk sluit 'n aëromagnetiese opname en die boor van 'n minimum van twee eksplorasieputte in die gebied in, om die teenwoordigheid van gas te bevestig
ERMELO – Groot bekommernis heers onder die boere van die omgewing nadat Rhino Oil and Gas Exploration South Africa (Rhino) ‘n aansoek vir eksplorasiereg om aardgasse te ondersoek ingedien het.
Dié aansoek is by die Petroleumagentskap van Suid-Afrika ingedien, namens die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie, ingevolge Artikel 79 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, 2002 (No. 28 van 2002).
Dit strek oor ‘n gebied van sowat 250 000 ha en sluit 1 500 eiendomme in.
Rhino se hoofdoelwit is om data vir toekomstige eksplorasieaktiwiteite in te samel.
Voorgestelde werk sluit ‘n aëromagnetiese opname en die boor van ‘n minimum van twee eksplorasieputte in die gebied in, om die teenwoordigheid van gas te bevestig.
SLR Consulting is aangestel as die onafhanklike omgewingsevalueringspraktisyn wat verantwoordelik is vir die onderneem van die vereiste omgewingstudies en die uitvoer van die openbare deelnameproses.
Ongeveer 30 boere van dié omgewing het op 13 September ‘n tweede vergadering by Ermelo Inn bygewoon om meer duidelikheid oor die proses te kry en ook om hul bekommernisse te lig.
Van die boere het die aanbieders van die voorlegging met vrae bestook om duidelikheid te kry oor hoe dié eksplorasie vir aardgas die omgewing en veral die waterbronne op die Hoëveld sal beïnvloed.
Vrae oor die beskermde gebiede in die omgewing is ook gevra, waarna dit bevestig is dat dié gebiede van die lys verwyder is en dat Rhino nie hiér aansoek vir eksplorasiereg kan doen nie.
Van die boere het hul bekommernis uitgespreek oor die besoedeling van ondergrondse water en ander waterbronne in die Hoëveld, en ook die gevaar van wegholbrande is genoem.
Een boer se grootste bekommernis was ook hoe die Hoëveld oor ‘n aantal jaar van nou af sal lyk wanneer die ontginning van gasse voltooi is.
Ter antwoord het die groep met illustrasies probeer verduidelik dat hy wel rehabilitasie op die gronde sal toepas.
“Elke myn in die area het voorheen dié beloftes gemaak dat rehabilitasie deelmaak van hul mynbedrywe, en julle mag dalk anders wees, maar in die geval van meeste van die myne in die omgewing vind daar nie rehabilitasie plaas nie,” het een van die boere gesê.
Hy sê dat dit ‘n groot bekommernis vir alle boere van die kontrei is.
Lees die volledige berig om Robert Davel, uitvoerende bestuurder van AgriCulture Mpumalanga, sowel as Henry Geldenhuys president van die Transvaalse Landbou-unie SA se mening hieroor te lees.



