Gemeenskap veilig tydens AfriForum se massapatrollie
107 gemeenskapspatrollies en 76 voertuie in Ermelo en omliggende areas het patrollie gery
ERMELO – ‘n Totaal van 107 AfriForum-buurtwagpatrolleerders in die Mpumalanga-Hoëveld, het op 11 April aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem.
Die hoofdoel van die massapatrollie, volgens AfriForum, is om sigbaarheid te verhoog en hierdeur misdadigers te ontmoedig. Altesaam het 76 voertuie meer as 2 900 km tydens die patrollie in die Hoëveld afgelê.
AfriForum-veiligheidstrukture wat deelgeneem het, sluit in Argent-plaaswag (buite Delmas), die Chrissiesmeer-, Delmas Valke- Ermelo-, Middelburg-, Piet Retief- en Standerton-buurtwag.
Die patrollie het om 16:00 begin en tot die volgende oggend geduur.
Geen ernstige misdade is aangemeld nie, wat ‘n bewys is dat dit sy doel dien.

Die patrolleerders het wel op vier motorongelukke gereageer.
In een van die voorvalle het ‘n voertuig in De Bruinstraat in Ermelo deur ‘n heining gejaag en langs die huis tot stilstand gekom.
“Verhoogde sigbaarheid is een van die maniere om ons gebiede te domineer en dit dien ook as ‘n magsvertoon om misdaad af te weer,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Hoëvelder, gesê.
‘n Patrollie bevorder ook die samewerking met verskeie ander organisasies, privaat sekuriteit en die SAPD.
Meer as 66 lede van ander instansies en organisasies het saam met AfriForum aan die massapatrollie deelgeneem.



