VIDEO | Nie ’n Bybelse plaag nie – maar boskrieke oral waar jy kyk!
Anders as sprinkane het boskrieke lang, dun voelers, dikwels langer as hul liggame.
Ermelo – Inwoners van Ermelo, Carolina, Belfast en selfs Dendron in Limpopo het die afgelope tyd verras wakker geword aan ’n ongewone gesig: honderde, selfs duisende groot, groen insekte op motors, mure en vensters.
Volgens Weiveld-ekoloog Shobie Arnoldi is dit boskrieke uit die genus Euconocephalus, ook bekend as “ware keëlkoppe” (Coneheads). Dié naam verwys na die insekte se kenmerkende spits kopvorm.
Die boskriek is ’n nagaktiewe blaarmimiekinsek wat deur lig aangetrek word, wat verklaar waarom hulle onlangs so volop by Mediclinic Ermelo waargeneem is.

Hulle is nie sprinkane nie, al lyk hulle dalk op die oog af soortgelyk.
Video: Verskaf/Christelle Smith
Anders as sprinkane het boskrieke lang, dun voelers – dikwels langer as hul liggame – terwyl wyfies ’n duidelike sekelvormige eierboor het waarmee hul eiers in sagte plantegroei of grond gelê word.

Die boskriek se blaarvormige voorvlerke bied uitstekende kamoeflering, sodat hulle soos blare aan bome lyk.
Hoewel die meeste helder groen is, kom daar ook vaalbruin vorme voor – ’n verskynsel bekend as polimorfisme.
Hierdie kleurvariasie help hulle om in verskillende omgewings te oorleef.
Lees meer hieroor in Hoëvelder.



