Massiewe boom val op huis in Chrissiesmeer, vrou oorleef wonderbaarlik
Chaos en puin het ’n klein dorpie getref, maar die gemeenskap het onmiddellik ingespring om die Van den Heevers by te staan.
Swaar reën en storm bring ’n gewone oggend tot stilstand
CHRISSIESMEER – In die vroeë oggendure van 24 November, terwyl swaar reën die klein dorpie getref het en rukwinde deur die bome gejaag het, het ’n gewone Maandagoggend vir die Van den Heever-gesin in ’n lewensveranderende oomblik ontaard.
Martelize en haar man Koos, albei in hul veertigs, was besig om gereed te maak vir werk toe ’n onheilspellende gekraak die lug vul.
Massiewe bloekom stort op slaapkamer neer
Voor hulle die erns van die geluid kon verwerk, het ’n massiewe bloekom, wat agter die hoofslaapkamer gestaan het, meegegee en reg op die kamer se dak neergestort, presies waar Martelize was.
Toe Koos die slag hoor, het sy wêreld stil gaan staan.

“Dit was ’n kraakgeluid en toe val die boom. Ek het gedink Martelize is dood,” het hy met trane in sy oë vertel toe Hoëvelder hom by die toneel ontmoet het.
Chaos en puin binne sekondes in die kamer
Die dakbalke het gebreek, bakstene en glas het oral versprei, en die kamer is binne enkele oomblikke in ’n warboel van flenterstukke verander.
Ten spyte van die omvang van die skade het Martelize die voorval oorleef en net gesigwonde en skrape opgedoen.
Sy het ’n paar steke nodig gehad, maar haar lewe is gespaar.

’n Foto teen die muur
Ironies en amper simbolies te midde van die verwoesting, hang ’n enkele foto nog stewig teen die muur, ’n foto van Koos en Martelize in ’n omhelsing, met die woorde “Vir altyd saam.”

Die gemeenskapsreaksie en verdere besonderhede van die opruim en herstelwerk verskyn in die gedrukte uitgawe van die Hoëvelder.



