Vervalle paaie in Ermelo eis dringende onderhoud
Die DA waarsku dat verskeie strate in Wyk 3 ’n gevaar vir motoriste inhou, en het hulle dus die munisipaliteit gevra om dringend op te tree.
ERMELO – Die DA beoog om ’n mosie in te dien om die Msukaligwa Plaaslike Owerheid te versoek om verskeie vervalle strate in Wyk 3, insluitend Alkema-, Pannevis- en CP Hoogenhoutstraat, dringend te herstel.
Volgens die DA PR-raadslid, Amor van der Walt, word motoriste daagliks aan gevaarlike paaie blootgestel.
“Alkemastraat het so verswak dat motoriste sukkel om daar te ry. Die padkondisie stel nie net voertuie nie, maar ook mense se lewens in gevaar. Herstelwerk op Pannevisstraat is steeds onvoltooid en veroorsaak frustrasie, terwyl CP Hoogenhoutstraat vol slaggate is en bestuurders forseer word om daarvoor uit te swaai.”
Van der Walt sê die munisipaliteit reageer nie op herhaalde klagtes nie.
“Hierdie vervalle paaie is ’n duidelike teken van swak dienslewering en verwaarlosing,” voeg sy by.
Lees meer hieroor in die Hoëvelder.








