VIDEO – Ermeloërs se huise skitter hierdie Kersfees
Kersliggies bring feesvreugde na Ermelo met uitstallings by liggiefeeste en pragtig versierde huise regoor die dorp.
ERMELO — Dit is weer Kerstyd in Ermelo en inwoners het verskeie geleenthede om die feestelike atmosfeer te geniet — van georganiseerde liggiefeeste tot pragtig versierde huise regoor die dorp.
Een van die gewildste besienswaardighede is steeds die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum se jaarlikse liggiefees, wat tot 24 Desember op die hoek van Pet- en Robertsonstraat aangebied word.
Die terrein is elke aand tot 20:30 oop en toegang beloop R30 per persoon.

Die liggiefees bied ’n kleurvolle uitstalling van Kersliggies en versierings en is ’n ideale uitstappie vir die hele gesin om die Kersgees te ervaar.
Deur die fees te ondersteun, dra inwoners ook direk by tot die belangrike werk wat die sentrum in die gemeenskap verrig.
Lesers se huise
Na aanleiding van lesers se voorstelle het Hoëvelder ook verskeie huise in Ermelo besoek wat hierdie feestyd besonders kreatief met Kersliggies en dekor versier is.
Van helder verligte motorhekke tot fyn vensterdekorasies — die huise dra by tot ’n warm, feestelike atmosfeer in woonbuurte regoor die dorp.
Inwoners word aangemoedig om tyd te maak vir ’n aandrit deur Ermelo om die verskillende liggie-uitstallings te bewonder en die gemeenskapsgees van die seisoen te geniet.
Indien jou huis ook met Kersliggies versier is en jy dit met ander wil deel, stuur gerus ’n WhatsApp na 076 474 9264 met foto’s en ’n kort video.

Hoëvelder sal dit graag op ons webtuiste en sosiale platforms uitstal.



