Smitsfield vier 100 jaar tydens geskiedkundige Geloftefees
Feesgangers van regoor die omgewing het saamgekom om die dag in 'n gees van dankbaarheid en samesyn te herdenk.
ERMELO – Die jaarlikse Geloftefees, wat op 15 en 16 Desember by die Smitsfield Tabernakel plaasgevind het, was vanjaar ‘n besonderse geleentheid met die viering van die terrein se eeufees.
Feesgangers van regoor die omgewing het saamgekom om die dag in ‘n gees van dankbaarheid en samesyn te herdenk.
Die verrigtinge het Maandagmiddag, 15 Desember, op ‘n ligte noot begin met tradisionele boeresport-items wat groot pret vir oud en jonk besorg het.

Namate die son gesak het, is die dag se aktiwiteite met ‘n biduur en tafelgebed afgesluit voordat daar gesellig saam gebraai en gekuier is.
Die aandprogram was gevul met plaaslike talent. Die Lox Band het gesorg vir vermaak, terwyl kinders hul staal gewys het in ‘n voordrag- en sangkompetisie.
Die aand is om die kampvuur deurgebring met boeremusiek, stokbrood, malvalekkers en gratis pannekoek.
‘n Hoogtepunt van die aand was die bekendstelling van die Eeufeesboek deur Elsa Winckler en Lizanne Dippenaar.

Op 16 Desember het die fokus verskuif na die geestelike en geskiedkundige betekenis van die dag.
Ds. Dif Ehlers het die Geloftediens gelei, waarna ‘n plegtige vlagseremonie gevolg het waaraan alle feesgangers deelgeneem het.
Dippenaar het die feesrede gelewer, waarin die belangrikheid van die Gelofte en die ryk geskiedenis van die Smitsfield Tabernakel beklemtoon is.
Die Eeufeesboek is weer formeel bekendgestel, wat ‘n rekord van die afgelope 100 jaar bied.
Morné Engelbrecht, voorsitter van die reëlingskomitee, het die bedankings en prysuitdeling behartig.

Die verrigtinge is afgesluit met ‘n groot gesamentlike ete waar families hul kos gedeel en die gemeenskapsbande versterk het.
Die komitee het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die fees moontlik gemaak en bygewoon het.



