Plaaslike inwoner se inisiatief help CMR-kinders met skryfbehoeftes
Die kinders van die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum in Ermelo ontvang weer skryfbehoeftes deur ’n jaarlikse gemeenskapsinisiatief.
ERMELO – Jaarliks neem plaaslike inwoner Marelize Kirk die inisiatief om die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum van skryfbehoeftes te voorsien.
Vanjaar is geen uitsondering nie, en sy nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak.
Indien jy enige skoolverwante skryfbehoeftes wil skenk – soos potlode, penne, notaboeke, pennesakkies of gom onder meer – is mense welkom om dit by ’n winkel van hul keuse aan te koop.
Kirk beskik ook oor ’n volledige kwotasie met pryse van verskeie skryfbehoeftes, en inwoners wat belangstel kan haar daarvoor kontak.
Die CMR Kinder- en Jeugsorgsentrum kan artikel 18a-kwitansies verskaf, wat beteken dat jou bydrae belastingaftrekbaar is.
“Ek nooi almal uit om te help waar hulle kan,” sê Kirk. “Elke klein bydrag maak ’n groot verskil vir die kinders se skooljaar.”
As ’n goedgunstelike bydrae het Kare Bearz R2 000 geskenk vir die skryfbehoeftes van die kinders, wat ’n groot hupstoot vir die projek beteken.
Vir navrae oor pryse, die vereiste skryfbehoeftes of om jou skenking te reël, kan Kirk gekontak word by 076 489 7895.



