Ermelo-gemeenskap hoop op terugkeer van die geliefde Hoëveld Skou
Fluisteringe op die dorp van ’n moontlike terugkeer van die Hoëveld Skou laat Ermeloërs nuuskierig en vol hoop.
Is die Hoëveld Skou op pad terug na dié dorp?
Daar is sekere dinge wat ‘n mens nie sommer vergeet nie.
Vir baie Ermelo-inwoners is die skou een daarvan – die reuk van boerewors op die kole; kinders wat tussen stalletjies rondhardloop; perde, bokke, beeste en skape in krale; boeresport en allerlei ander sport op die velde; en daardie gevoel dat die hele dorp op een plek bymekaar is.
SIEN OOK: GALERY – Herleef herinneringe van Ermelo se geliefde Hoëveld Skou
Die Hoëveld Skou het ontstaan in 1953 en vir dekades was dit ‘n vaste hoogtepunt op die dorp se kalender.

Dit was meer as net ‘n skou. Dit was ‘n gemeenskapsbyeenkoms, ‘n plek waar boere, sakemense, gesinne en sportliefhebbers mekaar ontmoet het.
Die skou is die plek waar kinders op ‘n prettige en leersame manier kan ontdek dat melk nie direk van Pick n Pay af kom nie, maar van koeie, waar hulle kan sien hoe skape geskeer word, hoe ‘n perd gery word en op ‘n mallemeule kan spring nadat hulle aan ‘n roomys gesmul het.

Toe die oorspronklike skouterrein later ontwikkel is tot wat vandag as die Merino Mall bekend staan, het die skou stilweg verdwyn – en daarmee saam iets wat baie mense vandag mis.
Die afgelope tyd is daar egter weer fluisteringe en gesprekke in die dorp.

Agter die skerms word daar gekyk na die moontlikheid om die Hoëveld Skou te herleef as ‘n moderne, inklusiewe eendag-fees, iets wat nie net op herinneringe staatmaak nie, maar nuwe energie en nuwe stories na Ermelo kan bring.
Lees meer hieroor in die Hoëvelder se gedrukte weergawe.



