Anita Geel het finansiële hulp nodig om mediese ondersoek te bekostig
’n Pynlike knop in haar regterlies beïnvloed Anita Geel se daaglikse lewe, en weens finansiële omstandighede kan sy nie die dringende CT-skandering bekostig wat haar dokter aanbeveel het nie.
ERMELO – Anita Geel (47) het finansiële bystand nodig om ‘n dringende CT-skandering te laat doen nadat sy die afgelope drie maande met ‘n pynlike knop in haar regterlies sukkel.
Die pyn het aanvanklik soos spierpyn gevoel, en Geel het ‘n apteek besoek om pynmedikasie te kry. Nadat personeel haar ondersoek en ‘n knop gevoel het, is sy aangeraai om ‘n dokter te raadpleeg.
Tydens die doktersbesoek is die knop ook opgemerk, waarna ‘n sonarondersoek aanbeveel is om die oorsaak daarvan te bepaal.
Geel se kind het haar gehelp om vir die sonarondersoek te betaal. Die resultate het gewys dat daar groeisels of ‘n massa in die area is, waarna die dokter ‘n CT-skandering aanbeveel het.
Sy het reeds ‘n fynnaaldaspirasie ondergaan waartydens ‘n monster uit die knop geneem en vir verdere ondersoek gestuur is. Geen kwaadaardige selle is in die monster gevind nie, maar die oorsaak van die massa is steeds onbekend.
Hoewel Geel ook met antibiotika behandel is, het haar toestand nie verbeter nie.
Volgens Geel is die massa agter ‘n slagaar geleë en plaas dit druk op die senuwees in die area.
Die pyn vererger daagliks en beperk haar beweeglikheid. Sy moet haar been met haar hand optel om te kan beweeg.
Haar dokter het ‘n dringende CT-skandering en verdere chirurgiese ondersoek aanbeveel om die oorsaak van die massa te bepaal en vas te stel watter behandeling nodig is.
Geel kan weens haar finansiële omstandighede nie privaat mediese sorg bekostig nie.
Marelize Kirk het besluit om haar te help en ‘n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur om geld vir die nodige CT-skandering in te samel.
Enigiemand wat wil bydra of meer inligting verlang, kan Kirk by 076 489 7895 kontak.



