Griffin-gesin kyk met dankbaarheid terug op moeilike jaar
’n Jaar ná die tragiese karongeluk vertel Douwlene Griffin van haar dogters se pad van herstel, die krag van geloof en die besondere ondersteuning wat hulle van die Ermelo-gemeenskap ontvang het.
“Die gebede het ons geestelik versterk. Die boodskappe het ons herinner dat ons nie alleen is nie. Die praktiese hulp en finansiële bydraes het laste ligter gemaak in ‘n tyd toe ons soveel nodig gehad het.”
Sy sê dit was veral betekenisvol om te ervaar hoe die gemeenskap saam gebid en vir Roané en Duney ingetree het.
Wanneer Douwlene terugkyk op die afgelope jaar, sê sy dat sy opnuut besef hoe kosbaar die lewe en gewone gesinsoomblikke is.
Haar grootste vreugde lê nie in een spesifieke gebeurtenis nie, maar daarin om haar twee dogters te sien leef, groei en nuwe dinge aanpak.
ERMELO – ‘n Jaar ná die ernstige ongeluk wat haar gesin se lewe onherroeplik verander het, kyk Douwlene Griffin met dankbaarheid terug op ‘n pad van verlies, herstel, geloof en die ondersteuning van die Ermelo-gemeenskap.
Roané was saam met haar ouer suster, Duney, haar pa en ouma in ‘n trompop botsing op die Amersfoortpad buite Ermelo, wat die lewe van haar ouma en pa geëis het.
Vir die gesin gaan die herdenking nie net oor die trauma en hartseer van 14 November 2025 nie, maar oor die lewe, haar twee dogters en die genade wat hulle deur die afgelope jaar gedra het.
Roané, wat vandag vyf jaar oud is, het volgens haar ma merkwaardig herstel. Die borrelende, lewenslustige dogtertjie is lief vir haar skool en maatjies, fietsry, legkaarte, LEGO en alles wat haar buite aan die beweeg hou.
Sy geniet dit om reënboë te teken, van unicorns te droom en saam met haar maatjies buite te speel. Vrydae saam met haar ‘Oom Brood’ by HPC en swem by Tannie Annelize is van haar gunstelingaktiwiteite.
Wanneer die weer warm is, geniet sy dit om saam met haar sussie in die water te baljaar terwyl hul ma hulle met die tuinslang natspuit.
Volgens Douwlene is Roané se vasberadenheid een van haar besonderste eienskappe.
“Ek kan self!” is woorde wat sy gereeld gebruik. Sy wil alles self probeer en gee nie maklik op wanneer iets nie die eerste keer regkom nie.
Fisiek kan Roané vandag alles doen wat ‘n dogtertjie van haar ouderdom doen, en selfs meer. Daar is egter steeds uitdagings. Haar been en voet raak soms moeg en sy ervaar steeds pyn. Sommige bewegings gebeur stadiger of is nie altyd so akkuraat nie, maar dit keer haar nie om deel te neem en nuwe dinge te probeer nie.
Hoewel sy nie meer formele fisioterapie of arbeidsterapie ontvang nie, gaan haar herstel tuis voort. Die gesin doen steeds oefeninge en werk aan haar fynmotoriese vaardighede met die leiding wat hulle van haar terapeute ontvang het.
Douwlene het vertel dat daar steeds mediese uitdagings is wat aandag verg, maar iemand wat nie van Roané se geskiedenis weet nie, sal waarskynlik nie besef waardeur sy is nie.
“Ek glo met my hele hart dat sy ‘n wonderwerk is. Daar is geen sigbare tekens van verstandelike of kognitiewe skade nie,” het sy vertel.
Een van die dinge wat Douwlene besonder diep raak, is Roané se geloof.
“Sy sê gereeld: ‘Jesus het my gesond gemaak.’ Vandat Roané mooi kon praat, gee sy volle erkenning aan Jesus. Daarom weet ek Jesus leef.”
Terwyl Roané se fisieke herstel ‘n groot deel van die afgelope jaar gevorm het, het haar ouer sussie, Duney, ook haar eie moeilike pad gestap.
Sy moes nie net die trauma van die ongeluk verwerk nie, maar ook die verlies van haar pa en ouma.
Douwlene beskryf haar as ‘n dogter met ‘n besondere persoonlikheid en sin vir humor wat steeds daarin slaag om haar ma te laat lag.
Duney staan nou voor ‘n nuwe hoofstuk met haar aansluiting by Ligbron Akademie vir Tegnologie, waar sy opgewonde is om met gr. 8 te begin en nuwe uitdagings aan te pak.
“Ek is ongelooflik trots op haar. Sy het ook haar eie pad van herstel, aanpassing en groei. Ek wil hê sy moet weet dat haar storie net so belangrik is en dat haar krag en deursettingsvermoë raakgesien word,” het Douwlene gesê.
Sy beklemtoon dat genesing nie net oor fisieke wonde gaan nie, maar ook oor emosies, gedagtes en harte. Albei dogters het steeds moeilike dae, en die gesin leer om tree vir tree vorentoe te beweeg.
Een van die dinge waarvoor Douwlene die meeste dankbaar is, is die ondersteuning wat hulle van die Ermelo-gemeenskap ontvang het.
Familie, vriende, kollegas by PAS Prokureurs, die kerk, skole, organisasies, mediese personeel en talle ander inwoners het die gesin deur die moeilike tyd ondersteun.
Sy het spesifiek haar ouers, Arrie en Alta Lombard, haar broer Jaco en sy vrou, Stephanie, asook Marelize en Jaco Kirk uitgesonder vir hul volgehoue ondersteuning.
“Hierdie mense het ons gedra en doen nog steeds,” sê sy.
Douwlene het ook haar dank uitgespreek teenoor PAS Prokureurs vir hul omgee, ondersteuning en begrip gedurende die afgelope jaar.
Elke oproep, boodskap, besoek, gebed, praktiese hulp en finansiële bydrae het volgens haar ‘n verskil gemaak.
“Om Roané se stywe drukkies te kry, Duney se tienerhumor te hoor, hulle saam te sien lag en te weet dat ons nog soveel gewone dae saam gegun word, is vir my ‘n ongelooflike voorreg.”
Sy sê die ervaring het haar geleer dat geloof nie beteken dat daar nooit onsekerheid of moeilike dae sal wees nie, maar dat ‘n mens steeds iemand het aan wie se hand jy kan vashou wanneer die pad onseker raak.
Hoewel daar steeds uitdagings voorlê, kyk sy met hoop na die toekoms.
“Ons is nie net ‘n verhaal van oorlewing nie. Ons is ‘n verhaal van genade, geloof, liefde en God se getrouheid.”
Sy sluit af deur haar dank aan almal wat deel van hul verhaal geword het uit te spreek.
“Dankie dat julle ons nie net in die begin ondersteun het nie, maar deur die hele pad. Dankie dat julle nie vergeet het nie. Dankie vir elke gebed, elke boodskap, elke oproep, elke bydrae en elke daad van liefde.”
Haar boodskap is eenvoudig: “God was in beheer. God is in beheer. En God sal altyd getrou bly. Aan God al die eer.”



