Local news

Annebel Ermelo vier ’n jaar van liefde en gemeenskapsomgee

Met die ondersteuning van plaaslike kerke, skole, organisasies en inwoners kon Annebel weer vanjaar talle dogters se lewens verryk.

ERMELO – Honderde pakkies toiletware, spesiale afskeidsgeleenthede en talle gebare van liefde het Annebel Ermelo se 2026 gekenmerk.

Saretha Ferns, takbestuurder van dié projek, het met groot dankbaarheid op die afgelope jaar teruggekyk en die Ermelo-gemeenskap vir hul ondersteuning bedank.

“’n Spesiale woord van dank aan elke kerk, skool en organisasie wat gedurende September produkte vir Annebel ingesamel het. Julle betrokkenheid maak ’n werklike verskil!”

Saretha Ferns en Theressa van der Walt by ’n skenking van toiletware aan Annebel Ermelo.
Saretha Ferns, takbestuurder van Annebel Ermelo, en Theressa van der Walt van die Ermelo Toyota Knights by dié groep se skenking aan die projek. Foto: Verskaf/Saretha Ferns

Annebel Ermelo bestaan reeds 15 jaar en versorg maandeliks tot 40 dogters. Die projek het drie takke in die dorp: Laerskool JJ van der Merwe, Ligbron en EHS.

“Ek is so ongelooflik dankbaar teenoor die Here vir hierdie besondere projek. Gedurende 2026 kon ek meer as 500 pakkies toiletware aan minderbevoorregte dogters uitdeel!”

Kleurvolle badhanddoeke met Annebel se geborduurde skoenlapperlogo.
Elke Annebel-dogter is vanjaar met ’n nuwe badhanddoek bederf. Foto: Verskaf/Saretha Ferns

Ferns het ook ’n besondere woord van dank aan die projek se helpers gerig.

“’n Baie spesiale dankie aan elke Annebel-hulpmamma wat elke maand met soveel liefde ’n pakkie vir haar Annebel-dogter voorberei het. Ek het ook die voorreg gehad om maandeliks in hierdie dogters se lewens te mag inspreek en hulle te bemoedig.”

’n Jaar van besondere hoogtepunte

Danksy die gemeenskap se ondersteuning kon Annebel Ermelo vanjaar:

  • Al die dogters in Januarie met skryfbehoeftes vir die nuwe skooljaar help.
  • Elke dogter met warm sokkies vir die winter bederf.
  • Vyf graad 7-dogters neem om nuwe klere vir hul graad 7-afskeid te koop.
  • Ses matriekmeisies help om ’n sprokiesmooi matriekafskeid te beleef.
  • Elke dogter met ’n nuwe badhanddoek bederf.

“Dankie dat julle deel was van Annebel Ermelo se suksesverhaal in 2026! Dit is mense soos julle wat my sommer opgewonde maak oor wat ons volgende jaar saam kan bereik!”

Gemeenskap kan reeds vir 2027 help

Met die nuwe jaar om die draai, het Annebel Ermelo reeds sy eerste behoefte vir 2027 geïdentifiseer: skryfbehoeftes vir 40 dogters.

Ferns het ’n beroep op sakelui, kerke, skole en individue gedoen om die projek hiermee te ondersteun.

“Kom ons gee hierdie dogters weer ’n goeie begin en wys dat daar mense is wat in hulle glo!”

Sy het haar dankboodskap aan die gemeenskap met ’n seënwens afgesluit.

“Mag elkeen van julle die vrug pluk van die saad wat julle met soveel liefde in hierdie projek gesaai het. Mag die Here julle ryklik seën!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Wayne van der Walt

Wayne van der Walt, with around 15 years in the media industry, is editor of Highvelder Newspaper. His accolades include Frewin Awards for Newspaper of the Year and Front Page of the Year, and FCJ Photographer of the Year, among other honours.

Related Articles

Back to top button