EHS se gr. 11’s ontvang hul matriekstreepbaadjies
Ermelo Hoërskool se 2027-matrikulante het tydens die jaarlikse baadjieseremonie hul kenmerkende streepbaadjies ontvang.
ERMELO – Ermelo Hoërskool het op 19 Oktober hul jaarlikse baadjieseremonie gehou, waartydens die skool se kenmerkende streepbaadjies aan die leerder wat volgende jaar matriek skryf, oorhandig is.
Die seremonie is ‘n spesiale geleentheid op die Erries se skoolkalender en simboliseer die groep se nuwe rol as leiers en ambassadeurs van die skool.
Nadat die leerder op ‘n erekode geantwoord het, het hul ouers die geleentheid gekry het om hul gewone groen skoolbaadjies met die kenmerkende streepbaadjies te vervang.
Die simboliek agter die streepbaadjie lê die Erries na aan die hart. Dit verteenwoordig die verantwoordelikheid wat elke gr. 12-leerling dra om die skool as leier te verteenwoordig en ‘n goeie voorbeeld te stel. Hierdie verantwoordelikheid rus dus nie net op die lede van die Errie-raad nie, maar op elke matriekleerling.
Die geskiedenis van EHS se kleure dateer terug na ongeveer 1917, toe A.E. Adriani, die eerste skoolhoof van die Uitkomsteskool, die breë groen en smal wit kleure voorgestel het. Wit simboliseer reinheid en opregtheid, terwyl groen vir moed en hoop staan.
Tydens die jaarlikse seremonie word die skoolbybel en skoolvlag ook aan die volgende jaar se presidente oorhandig.
Janeske Jansen van Rensburg het die skoolbybel ontvang as simbool van die Erries se geloof, met die boodskap: “Glo
in God en glo in die toekoms. Neem dit as ‘n lig vir jou pad – ook vir die Erries.”
Die skoolvlag is aan Janus Coetzee oorhandig as simbool van eenheid, met die wens: “Neem dit en bou ‘n beter toekoms
vir ons skool en ons land.”
Pieter Grobler, die skoolhoof, het die leerlinge met die mylpaal gelukgewens en hulle sterkte vir hul matriekjaar toegewens.
“Mag julle die streepbaadjie en die simboliek daaragter met trots dra.” het hy gesê.






