Die wonder van die tegnologiese era het ons almal lank reeds aan die wonder.
Ons, veral dié in die meer senior ouderdomsgroep, wonder dikwels hoe ons ooit sonder rekenaars, selfone, I-pads en vele ander wonderlike tegnologiese toerusting klaargekom het. Tog het ons oorleef en die wêreld het ook in die “ou dae” steeds bly draai.
Rekenaarspeletjies is egter één aspek van die tegnologiese era wat ek uit eie keuse by my laat verbygaan.
Die hoofrede daarvoor is seker omdat ek nie die ingewikkelde instruksies in my kop kan kry nie en die goeters op die skerm te vinnig beweeg.
Voordat ek kan sien wat en waar hulle is, word my mannetjie met bolle vlamme en skrikwekkende geluide summier vernietig.
Ek het ook nie tyd om ure lank te sit en kyk hoe my kosbare tyd in vlamme op die skerm verkwis word nie.
Dit is egter nie almal wat soos ek oor rekenaarspeletjies redeneer nie.
Ek het al telkemale by sakeondernemings en staatsinstellings ingeloop waar die mense agter die toonbanke en by hul lessenaars druk besig is om hul hoogste “score” te probeer verbeter.
As mens durf groet en die rede vir jou besoek wil oordra, word jy met ’n skeef-gedraaide kop met ongeduld bejeën. Hul oë verlaat glad nie die skerm voor hulle nie en al klank wat uit die monde uitkom, indien jy gelukkig is, is ’n kort “uh-huh” terwyl hulle koppe vorentoe en agtertoe ruk en die vingers met geweld teen die sleutelbord hamer.
By een só ’n plek wat ek onlangs uit die aard van my werk moes besoek, moes ek maar geduldig wag terwyl die redelik hooggeplaaste amptenaar ewe gerus (behalwe vir sy rukbewegings) sy “game” klaar gespeel het. Die diens wat ek daarna gekry het, het my goed laat verstaan dat ek pas sy kans om sy hoogste “score” te verbeter, erg in die wiele gery het.
Ek skiet nie rekenaarspeletjies as sodanig af nie. (Daar speel ek tog, maar met woorde!)
Dit is net nie vir my nie en ek is van mening dit hoort nie by plekke waar die publiek
bedien word nie.
Dit skiet …
ekskuus … skep
glad nie ’n goeie
indruk nie.