Ermelo Toyota Knights bied Mandjie Dans aan ten bate van Annebel-projek
Die Mandjie Dans by Ermelo Toyota Automark kombineer musiek, vermaak en gemeenskapsbetrokkenheid vir ’n goeie doel.
Die Ermelo Toyota Knights nooi die gemeenskap uit na die unieke en informele “Annebel Ermelo Mandjie Dans” wat op 25 April by Ermelo Toyota Automark plaasvind.
Die geleentheid beloof ’n gesellige piekniek-atmosfeer met musiek, speletjies en goeie geselligheid te wees.
Vir R150 per paartjie kan gaste deel wees van ’n aand waar ontspanning en gemeenskapsgees sentraal staan. Elke paartjie word aangemoedig om hul eie kombers en piekniekmandjie saam te bring om die volle ervaring te geniet.
Die aand sal vermaak insluit met ’n DJ wat sal sorg vir dansmusiek, sowel as verskeie speletjies met lekker pryse vir deelnemende paartjies.
Bykomende opwinding word verseker deur heerlike pannekoeke wat te koop sal wees vir dié wat lus kry vir iets soets en warm.
Organiseerders beklemtoon dat die geleentheid nie net oor vermaak gaan nie, maar ook ’n betekenisvolle doel dien.
Alle fondse wat ingesamel word, sal aangewend word om sanitêre produkte vir die Annebel-projek aan te koop, as deel van ’n gemeenskapsinisiatief wat ondersteuning bied aan minderbevooregte dogters.
Die aand word beskryf as ’n “vermaak-gevulde piekniek atmosfeer” waar paartjies kan ontspan, bietjie binneboud dans, skoffel, of langarm en saam kuier in ’n informele en gesellige omgewing.
Inwoners word aangemoedig om vroeg te bespreek en deel te wees van ’n aand wat pret met ’n doel kombineer.
Skakel Jeanet van Heerden by 083 291 9843 vir besprekings of enige navrae.



