LettersOpinion

Terloops

Ek weet nie of die feit dat die jare aanstap, mens meer sommer net meer laat dink nie. Ek betrap myself deesdae gereeld my gedagtes by die huis en werk bloot net hul eie koers inslaan. Wanneer daar iets belangriks in my kinders se lewens gebeur, wonder ek dikwels watter aandeel ek tydens die grootmaakproses …

Ek weet nie of die feit dat die jare aanstap, mens meer sommer net meer laat dink nie.

Ek betrap myself deesdae gereeld my gedagtes by die huis en werk bloot net hul eie koers inslaan.

Wanneer daar iets belangriks in my kinders se lewens gebeur, wonder ek dikwels watter aandeel ek tydens die grootmaakproses in hul optrede en besluitnemingsproses as volwassenes gehad het.

Ek wonder dan ook of ek vandag dalk ’n groter rol in die besluite wat hul neem sou gespeel het, as ek nader aan hulle gewoon het.Maar die oumense het gesê: “Van wonder, gaan die son onder” en ek moet dus minder wonder.

Soms gebeur dinge by die werk wat my laat wens ek het mense en hul optrede beter verstaan.

In enige werkplek word die uiteenlopende persoonlikhede maar altyd verteenwoordig en bly dit baie interessant om te sien hoe verskillende mense in verskillende situasies optree.

Vir sommige mense is die glas half-vol en vir ander half-leeg.

Veral as mens as leier moet optree, raak dit soms nogal moeilik om nie op tone te trap en gevoelens in die proses seer te maak nie.

Dikwels moet besluite vinnig gemaak word en moet die brein rats ingespan word om al die nodige partye in ag te neem.

In ’n werk soos myne waar daar regstreekse skakeling met die gemeenskap op alle vlakke is, kan ’n dag op kantoor nogal ’n interessante wending neem. Soms verander ’n onverwagte besoeker of gebeurtenis op kantoor ’n dag wat nie goed begin het nie, in ’n dag vol lag en vreugde en andersom.

Ek is nie altyd seker of mense besef watter groot impak hul optrede op die gemoedstoestand van dié met wie hul paaie kruis, het nie.

Gisteraand in my bed het ek weer een van daardie sommer-net-dink tye beleef en het die afgelope paar weke en dinge wat my pad gekruis het, deur my kop gemaal.

Die ou gesegde “met die waters wat verby is, sal jou meule nooit weer maal” het deur my gedagtes geflits.

Net daar en dan het ek besluit om nie meer net sommer te dink nie en harder te probeer om dinge wat ek nie kan verander nie, te aanvaar.Ek gaan dink oor hoe ek ’n positiewe bydrae in die lewens van mense rondom my kan maak.

Maar so terloops……. ek gaan nie heeltemal ophou dink nie en sê nie ander moet my voorbeeld volg nie.

Geniet die dinktye.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button