EHS sê graag dankie
Mnr. Bok Martins, Hoof Hoërskool Ermelo: Die EHS Eeufees is nou reeds oral bekend. ’n Baie belangrike komponent in hierdie 100ste bestaansjaar van Hoërskool Ermelo, en deel van die feesvieringe is nie net die afstof van tradisie nie, maar ook die aantrek van ’n nuwe baadjie vir die skool se volgende eeu van uitnemendheid. Ons …
Mnr. Bok Martins, Hoof Hoërskool Ermelo:
Die EHS Eeufees is nou reeds oral bekend.
’n Baie belangrike komponent in hierdie 100ste bestaansjaar van Hoërskool Ermelo, en deel van die feesvieringe is nie net die afstof van tradisie nie, maar ook die aantrek van ’n nuwe baadjie vir die skool se volgende eeu van uitnemendheid.
Ons skoolterrein is ’n sleutelrol in hierdie aksie en dáár het opwindende dinge plaasgevind. Soos die oprig van ’n gedenkmuur, asook ’n gedenktuin by die ouditorium, die EHS Raadsaal is opgeknap en voorsien van moderne tegnologiese toerusting.
Die skoolterrein is voorsien van splinternuwe padtekens en aanwysingsborde.
Voor die pawiljoen is die heining ook opgegradeer en die advertensieborde by die A-rugbyveld is vernuwe. ’n Netjiese randsteen rond die pad by Huis Veltman mooi af.
Die skooltuine is ook verfraai. Iets van die oue is probeer behou, maar die nuwe aanplantings het vir seker waarde toegevoeg tot die reeds bestaande tuine. Die hoofgebou se tuin het ’n nuwe gesig en dis groen…Errie-groen! Voor die Hotelskool, by die ouditorium en by die visdamme by die hoofhek is daar ook gewerskaf om die tuine mooi te maak. Daar word regtig moeite gedoen om die hele skoolterrein weer net groen en mooi te laat vertoon.
Intussen word die muurbalbane herstel en opgeknap. By die ontvangslokaal is pragtige verbeterings aangebring met heerlike nuwe pawiljoenstoele vir die gaste!
Tans word die hoofingang opgegradeer – weer eens, ons behou dit wat was en poog dat dit wat bygevoeg word, geen afbreuk sal doen aan die karaktervolle ingang nie.
Al dié opgraderings sou glad nie moontlik kon wees sonder die welwillendheid en ruimhartigheid van ouers, beheerliggaamslede, oud-ouers , oud-Erries, die ErrieUnie-lede en vriende van die EHS nie. Die onbaatsugtige skenkings en borge is werklik vir ons ’n riem onder die hart. Dít spreek van ’n gemeenskap se eeu van toewyding. Daarom dié brief: Die EHS sê opreg DANKIE! Baie dankie vir ’n oop hart en hand… ons staan klein voor almal wat gee sonder om terug te verwag! Ons bly dankbaar teenoor ons Hemelse Vader vir die goedheid en guns wat ons geniet.
Ons is met reg trots op alles wat reeds vermag is en wil met hierdie brief ons grootste waardering uitspreek teenoor almal wat op vele terreine betrokke was en is. Dankie, dat julle die belange van ons skool en kinders op die hart dra. Mag jul almal geseën word.