OpinionTerloops

Terloops

Lewe vir vandag en waardeer geliefdes en mense ná aan jou.

Ek het ‘n voorverlede naweek wat ek nie sommer sal vergeet nie agter die rug.

Ek was Vrydagaand bevoorreg om die verjaarsdagparty van twee goeie vriendinne by te woon.Wat ‘n fees!

Daar was ‘n tema en al die gaste het saamgespeel en volgens die tema aangetrek. ‘n Heerlike partytjiegees het in die lug gehang.

Terwyl die partytjie so om my sy gang gegaan het, het ek vir ‘n wyle in my eie gedagtes verdwaald geraak.

Dit het my opgeval hoe min ‘n mens eintlik nodig het om jouself te geniet.

Goeie vriende, ietsie lekker om te eet en te drink en bietjie musiek in die agtergrond en almal lag en gesels en leef vir die oomblik.

Ek het toe besef dat ons soms ons eie lewens kompliseer deur ons te veel te bekommer oor wat môre of die dag daarna of selfs verder in die toekoms gebeur en net daar en dan besluit om voortaan vir die dag te lewe.

Môre en elke dag daarna kan vir homself sorg.

Ek glo ook as ek my Hemelse Vader ken in my elke dag se doen en late nie veel verkeerd kan gaan nie.

Ek bid ook dat die jaar wat voorlê vir my twee verjaarsdagvriendinne al die seën en voorspoed wat almal by die partytjie hulle toegewens het, sal inhou.

Saterdagmiddag het ek die kombuistee van ‘n kollega en vriendin wat binnekort trou, bygewoon.

Weereens was dit baie gesellig en het die klompie vroue wat daar was baie lekker saam gekuier.

Ek het die pragtige jong voornemende bruid dopgehou en gesien dat sy straal by die vooruitsig dat sy binnekort “Mevrou” voor haar nuwe van kan voeg.

In my hart het ek haar en haar toekomstige man ook aan Hom wat twee mense vir ‘n rede saamvoeg, opgedra en gebid dat die toekoms vir hulle net mooi dinge, liefde, geluk en, as dit hulle wens is, pragtige kinders sal inhou.

Sondag het Sussie my en haar pa ingelig dat sy gereed is om haar vlerke te sprei en die nes te verlaat. My laaste kuiken moet ek nou laat gaan.

Skielik het ek besef dat al is sy vir my nog net ‘n dogtertjie, sy eintlik ‘n vrou is wat gereed is om die grootmenswêreld en al die uitdagings wat dit bied, self aan te durf.

Dit is gerustellend dat sy nie ver weg gaan nie en dat sy weet dat haar ouerhuis se deure altyd vir haar oopstaan.

My hart is seer en ek gaan haar mis, maar soos ek al die verlede gesê het, sal ek aanhou bid soos net ‘n ma kan en haar opdra aan Hom wat die grootmenspad al vir jare saam met my ander twee kinders loop en ons nog nooit teleurgestel of in die steek gelaat het nie.

Mag dit met jou net goed gaan, my liefste kind.

Intussen sal ek maak soos ek my voorgeneem het en die beste van elke dag maak.

My nuwe leuse:

Carpe diem – gryp die dag!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Highvelder News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button