OpinionTerloops

Verandering in die Laan

"Ma het gesê ons mag speel tot die 7de Laan-liedjie opkom en dit het nog nie opgekom nie, so wê!"

Ek is seker daarvan dat chaos vanaf 18:30 Maandagaand in duisende huishoudings regoor die land geheers het.
Nee, nie weens beurtkrag of geen-krag of miskien-krag soos ons Ermeloërs nou al aan gewoond geraak het nie.

In die huishoudings waar daar wel krag was, het daar ‘n tranedal en ‘n verset teen slaaptyd geheers soos nooit tevore.
Die rede?

Die deuntjie op die kassie wat om 18:30 die afgelope 15 jaar slaaptyd vir derduisende kinders aangedui het, het nie gespeel nie.

Ja, daar is verandering in die Laan. Die bekende 7de Laan-liedjie deur die Soweto Strykkwartet is nie meer nie.
Die boeties en sussies, gebad en snoesig in hul dik japonnetjies toegedraai, kon nog speel totdat die 7de Laan-deuntjie speel en dan moes hulle gaan slaap.

Die deuntjie het al in talle huise soos ‘n wekker geword . Dit maak nie saak waar ons ons in die huis bevind het nie, ons het net laat weet: “Dis nou slaaptyd vir kinders!”

In ons huis het tot die raasbek-ringnekpapegaai, Peanut, geweet as die Soweto-manne beginne te-die-die-tie moet sy haar vere reg skud, haar koppie laat vryf en haar baas (dis nou ek) nag soen. Dan klim sy weer in haar koutjie in en word toegemaak vir slaaptyd.

Maar Maandagaand het baie boeties en sussies dwarsoor die land botweg geweier om in die bed te klim, want “ma het gesê ons mag speel tot die 7de Laan-liedjie opkom en dit het nog nie opgekom nie!”
Maar 7de Laan het reeds lankal begin. Die akteurs is op die kassie en almal doen hulle ding wat ná 15 jaar steeds op niks noemenswaardig uitgeloop het nie. Maar ons kyk tog, dag na dag, jaar na jaar.

Peanut kan ook nie haar geluk nie glo nie en skree en dans uitdagend bo-op haar koutjie. Die slaaptyddeuntjie het nog nie begin nie, so sy gaan nie nou al slaap nie.

Die nuwe 7de Laan-deuntjie is skaars hoorbaar selfs van naby die televisiestel en nou gaan ouers ‘n ander plan moet maak om die kinders en voëltjies in die bed te kry, want nou is daar ‘n tegniese punt ter sprake.
Ma en Pa het gesê “as die deuntjie speel”, nie “as die storie begin” nie. Nou speel die deuntjie nie meer nie, so wê!”

Ja, ons was almal aspirantprokureurs en -advokate vir die verdediging toe ons klein was. Kinders weet sommer van kleins af hoe om hulle op ‘n tegniese punt uit ‘n situasie los te wikkel.

Dit laat my, soos oom Oubaas sou sê, “flussies” dink aan ‘n grappie wat ek baie jare gelede in ‘n tydskrif gesien het. Klein slim Jannie staan voor ‘n kaart met ‘n tekening van ‘n ooievaar en sê vir sy pa: “Ek wil nie graag van Pa verskil nie, maar soos ek dit uitgewerk en bereken het, is die oppervlak van ‘n ooievaar se vlerkspan heeltemal te klein om ‘n twee-en-‘n half tot drie-en-‘n-halwe kilogram vrag te kan dra!”

Nou ja, sterkte aan al die ouers wat nou ‘n nuwe storie moet uitdink om die kinders vroeg in die bed te kry. Daar is nou baie tyd om ‘n goeie een te prakseer, want dis nou skoolvakansie en die 7de Laan-reël geld mos nie in die vakansies nie.

En Peanut gaan van nou af met ‘n versnapering in die koutjie gelok moet word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button