OpinionTerloops

Bestuur soos jy wil, Cowboy

'n Toegeeteken? Wat is dit? O, ja, "Toe, gee nou pad, omie, ek kom deur met 'n spoed!"

Ek weet nie of dit net ek is nie, maar dit wil my voorkom asof daar deesdae algehele wetteloosheid en minagting van padreëls onder talle voertuigbestuurders in ons dorp heers.

Mense tog! Die ongeduld en haastigheid van sommige bestuurders is verstommend gevaarlik.

Die 60km/u-spoedgrens is vir dié straat-“cowboys” net iets wat hulle moet noem wanneer hulle hul leerlinglisensietoets aflê, as hulle dit wel doen. Miskien sal hulle ook met die bestuurstoets heel stadig en statig ry sodat die toetsbeampte sy waardigheid kan behou daar waar hy langs die “gonna-be” straat-“cowboy” sit.
Daarna is dit voet in die hoek waar hulle ookal gaan.

Kerkstraat se spoedbrekers het vir sommige bestuurders ‘n uitdaging geword. Lyk my hulle poog om die tydsduur van die geklak-klak van die voor- en agterwiele van hulle voertuie af te bring na millisekondes. Dít terwyl ander motoriste suutjies en sywaarts oor die hobbeltjies kruie soos ‘n dragtige seekoei wat uit ‘n modderige watergat kruip.

Volgafstand? Lyk my dit beteken deesdae dat die “cowboys” só naby aan die motor voor hulle moet ry dat hulle die kleingeld kan tel wat in die vakkie onder die handrem lê.

Stoptekens beteken ook vir hulle nie veel nie en vierrigtingstoptekens is net daar om te sorg dat die ander mense (ek en jy) moet stilhou.

En ‘n toegeeteken? Wat is dit? O, ja, “Toe, gee nou pad, omie, ek kom deur met ‘n spoed!”

Verkeersligte het vir party ouens ook oënskynlik ‘n heel nuwe betekenis aangeneem. Dit wil voorkom of die groen lig beteken mens moet so vinnig as moontlik jaag sodat die volgende verkeerslig groen gevang kan word.

En moenie dink ‘n geel lig sal die “cowboy” se spoed enigsins stuit nie. Nee, wat. Sien, ‘n geel lig is maar net ‘n waarskuwing vir jou wat in die dwarsstraat staan. Jy moet weet dat indien die lig vir hom na rooi sou oorslaan, hy nogtans sal oorry.

Om van baan te verwissel sonder enige aanduiding van jou voorneme, om te parkeer hoe en waar mens wil, om dubbel te parkeer in die besige hoofstraat terwyl daar met voetgangers wat gebukkend by die venster met boude in die lug geklets word, is blykbaar alles deel van die pret.

So gepraat van voetgangers. Daar is ook nie meer onder hulle agting vir ‘n rooi verkeerslig nie. Die pad word oorgesteek teen ‘n slakkepas met ‘n traak-my-nie-agtige houding.

‘n Ander verskynsel is die toenemende aantal swaarvoertuie wat die dorp kruis en dwars deurry, veral laatmiddag en vroegoggend, om nie eens te praat van in die nag nie! Die swaarvoertuigroete word soos die voorheen gemelde stoptekens geïgnoreer en daar word kortpad gevat deur die voorstede.

Mense, daar sal iets aan die saak gedoen moet word, anders gaan die hartseer en verdriet wat deur die toenemende motorongelukke in en om ons dorp veroorsaak word, nie ophou nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button