
Die afgelope week het gebeure rondom die Hoëveld Landboufees ons dorp behoorlik op die “map” geplaas.
Nie sedert die dae van Jonty die perd wat uit ‘n helikopter na die arena sou gespring het en diereliefhebbers oor die lengte en breedte van die land in opstand gebring het, was daar soveel publisiteit aan die skou verleen nie.
Doerie tyd was daar nie iets soos sosiale media nie, maar die gedrukte media en nuusbulletins het behoorlik gegons.
Jonty het wel destyds sonder ‘n valskerm gespring en toe hy die grond tref en in duisende stukkies spat, was die vurige beswaarmakers se gesigte oombliklik rooi. Hy was toe al die tyd ‘n lewensgroot perd gemaak uit skuimplastiek.
Ja, Steve het gekom en Steve het gesing, ondanks die besware en betogings. En raai, raai, die son het die aand van sy optrede oudergewoonte gesak en oudergewoonte die volgende dag weer verrys, en so ook op die daaropvolgende dag… en ons vertrou vir honderde jare nog.
Dit het wel strategiese beplanning soos min gekos om die veilgheid van Ermeloërs binne en buite die skouterrein te verseker.
Ermelo was die afgelope naweek sekerlik die veiligste dorp in die land met polisiepatrollies, veiligheidspersoneel, buurtwag- en plaaswaglede wat sake dopgehou het en ook die spesiaal “ingevoerde” manne wat die sanger soos ‘n tweede vel opgepas het.
Met Steve se vertoning Saterdag het dit byna soos ‘n nuwetydse parlementsitting gelyk met die fris uitsmytermanne in hul netjiese hemde wat met gevoude arms en ernstige uitdrukkings op hul gesigte gestaan en sake dop gehou het.
Is dit nie snaaks nie hoe uitsmyters altyd met hul arms gevou staan en heen en weer agteroor en vorentoe wieg? As hulle iets in die gehoor sien wat nie reg lyk nie, loop hulle stadig en statig na die “probleem” en beduie woordeloos met een hand, terwyl die ander arm steeds teen die bors gevou is.
Ek weet nie hoekom nie, maar dit is verskriklik intimiderend.
Dit is vir my ook opvallend hoe hulle voor die tyd onder mekaar grappies maak en lag en met mekaar skerts, maar sodra hulle op hul poste staan verander hulle in uitdrukkinglose, stadig bewegende wesens wat onmiddellik respek en orde afdwing.
Hoe dit ook al sy en ongeag wie watse bedoelings gehad het om die afgelope naweek se skou te ontwrig, ons het almal ‘n les in verdraagsaamheid geleer.
Ons kan saam leef en saam beweeg terwyl ons ons eie belangstellings, kultuur en dinge nastreef, soms oorkruis op die selfde plek of by dieselfde geleentheid, maar ook soms in eie geledere. Die volgepakte pawiljoen met mense van alle kultuurgroepe was ‘n bewys hiervan.
Dit is nie nodig om ‘n vinger in iemand se oog te steek of ‘n stok in die speke te wil steek omdat ons belangstellings verskil nie.
“Leef en laat leef.” Dit is tog nie so moeilik nie.
Of is dit?



