Stanton-gesin saam op pad na SA-karateverhoog
’n Ermelo-gesin het saam vir die SA Karatekampioenskappe gekwalifiseer.
ERMELO – ’n Gesin van Ermelo gaan binnekort saam op die nasionale karateverhoog verskyn nadat al drie lede van die Stanton-gesin vir die SA Karatekampioenskap gekwalifiseer het.
Jonathan Stanton (44), sy vrou Charlene (44) en hul sesjarige seun, Nathan, sal Mpumalanga verteenwoordig by die kampioenskap wat op 15 en 16 Mei by die Standard Bank Arena in Johannesburg plaasvind.
Ongeveer 2 000 deelnemers van regoor die land sal aan die byeenkoms deelneem.
Die gesin se betrokkenheid by karate het begin toe Nathan in 2024 met lesse begin het om selfvertroue te bou en beter by die nuwe omgewings aan te pas.
Aanvanklik het hy gesukkel, waarna sy Sensei voorgestel het dat hy iemand saambring om hom meer gemaklik te laat voel.

Sy pa, Jonathan, het hom vergesel en kort daarna self begin deelneem.
In Maart 2025 het Charlene ook by die sport aangesluit toe sy vir Jonathan moes instaan tydens ’n werksverpligting.
Die gesin het op 28 Maart aan die Mpumalanga Ope by die Sasol Recreation Club in Secunda deelgeneem.
Jonathan het goud in kata en silwer in kumite gewen.
Charlene en Nathan het albei goud in sowel kata as kumite behaal.
Vir Charlene en Nathan is dit hul eerste deelname aan die SA’s, terwyl Jonathan reeds in 2025 deelgeneem het. Die gesin beskryf hulle kwalifikasie as ’n groot voorreg.
Hulle oefen twee keer per week saam by JKA Ermelo onder leiding van Sensei Madelein Coetzer.
Volgens die gesin ondersteun hulle mekaar deur tegnieke saam te oefen en mekaar aan te moedig tydens kompetisies.
Ten spyte van skool- en werksverpligtinge, fokus die gesin daarop om ’n balans te handhaaf. Oefeninge vind na ure plaas, terwyl akademiese werk eerste prioriteit geniet.
Die Stanton-gesin sê hulle fokus vir die SA’s is om hul klub en provinsie te verteenwoordig en ervaring op te doen.
“Ons hoop om so goed as moontlik te presteer tussen al die deelnemers, maar die ervaring alleen is baie postief. Ons wil aanhou groei en eendag ’n swartbelt dra,” het hulle afgesluit.



