Twee polisielede in hegtenis oor haarsalonvoorval op Bethal
’n Intelligensiegedrewe operasie het gelei tot die inhegtenisname van twee SAPD-lede in Bethal.
Die Suid-Afrikaanse Polisiedienste in Mpumalanga het bevestig dat twee polisielede van Bethal in hegtenis geneem is weens beweerde korrupsie en afpersing wat verband hou met ’n haarsalonvoorval.
Die beamptes, ’n sersant en ’n konstabel verbonde aan die Bethal-polisiestasie, is gister in hegtenis geneem ná ’n intelligensiegedrewe operasie deur die Provinsiale Teenkorrupsie-eenheid.
Volgens die polisie spruit die saak uit ’n voorval in Januarie 2025, toe die beamptes glo geld geëis het van ’n persoon wat nie ’n lisensie vir die bedryf van ’n haarsalon kon toon nie.
Daar word beweer dat die beamptes kontant van die slagoffer geëis en geneem het. Na wat verneem word, het die lede ook aangedui dat hulle later vir nog geld sou terugkeer.
Die betrokke persoon van die haarsalon het die voorval by ’n lid van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) aangemeld, wat dit verder na ’n senior SAPD-lid by die polisiestasie verwys het.
Dit het gelei tot ’n ondersoek en uiteindelik die inhegtenisname van die twee beamptes.
Die verdagtes sal na verwagting Vandag in die Bethal-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en afpersing.
SAPD neem standpunt in teen korrupsie
Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, Zeph Mkhwanazi, het die inhegtenisnames verwelkom.
“Die beweerde optrede van hierdie lede ondermyn die eed wat ons afgelê het om die publiek te dien en te beskerm. So pynlik as wat dit is om ons eie lede in hegtenis te neem, moet hulle die gevolge van hul dade dra. Daar is geen plek vir korrupte elemente wat die uniform en die gemeenskappe wat ons dien verraai nie,” het Mkhwanazi gesê.
Die SAPD het beklemtoon dat ’n daar ’n nulverdraagsaamheidsbenadering gehandhaaf sal word teenoor korrupsie binne sy geledere en dat enige lid wat by misdadige optrede betrokke is, streng volgens die wet hanteer sal word.
Polisie het aangedui dat verdere inhegtenisnames in die saak nie uitgesluit kan word nie.



