Mense gee nog om vir mekaar
Die welwillendheid en bedagsaamheid het my voorwaar weer laat goed voel oor die lewe en die mense rondom ons.

Dit was vir lank my gewaarwording dat mense so besig is om ingesluk te word deur die besige lewens wat ons lei dat daar nie meer tyd is vir mekaar en samesyn nie.
Ek is egter die laaste ruk verkeerd bewys.
Mense hét nog tyd vir mekaar en om mense in nood by te staan.
Ek was die afgelope week in die hospitaal en groot was my verbasing dat mense, tussen hulle besige skedules deur, nog tyd gehad het om my te besoek en selfs met blomme, lekkernye en vrugte te bederf.
My kollegas het, sonder om te kla, ingespring en my werk gedoen en ek kon rustig vanoggend weer my stoel inneem en net die laaste paar takies verrig voor die koerant sak.
‘n Kollega van my se baie goeie vriendin was die laaste ruk baie siek en is oor die naweek oorlede.
Haar toestand het baie aandag geverg en omdat sy nie meer ‘n man het en haar kinders ver is, was sy baie afhanklik van haar vriendin.
Dit was met verwondering dat ek gekyk en geluister het na met hoeveel geduld en toewyding my kollega die sieke bygestaan en ondersteun het.
Nooit het sy gekla nie dat iets te veel moeite was terwyl sy self op dié stadium probleme met haar motor ondervind het en op haar man aangewese was vir vervoer.
Almal by die werk het op hulle beurt weer gehelp waar hulle kon.
Die welwillendheid en bedagsaamheid het my voorwaar weer laat goed voel oor die lewe en die mense rondom ons.
Laastens wil ek net sê: “Rus in vrede, tannie Hettie – jy laat goue herinneringe vir die mense wat naby aan jou geleef het.”
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.



