MENINGSTUK – Is mense besig om van hulle ‘trollies’ af te raak?
Die opwinding rondom hierdie mini’s herinner my aan die bekendstelling van die Prime-drankie wat die Suid-Afrikaanse mark getref het.
’n Groot Suid-Afrikaanse supermarkketting se nuutste minis-veldtog het die land behoorlik aan die gons.
Nostalgie en kinderlike vreugde:
Dié slim bemarkingstaktiek – klein miniatuurprodukte wat amper presiese replikas is van ware produkte op die winkelrakke – bring vir sommige die gevoel van nostalgie en kinderlike vreugde na die inkopiegange.
Trollie-manie
Die groot besprekingspunt aanlyn is egter die miniatuur inkopietrollies, wat mense oor die hele land blyk te laat kop verloor. Trollies word vir soveel as R2 500 op sosiale platforms aangebied.
Dit laat my kopkrap: Is hierdie onskuldige pret, of is mense besig om van hulle ‘trollies’ af te raak?
Op ’n ligter noot het ’n persoon op sosiale media ’n foto van haar mini-trollie geplaas met die speelse opmerking: “Mini-trollie te ruil vir ’n stukkie grond op die oewer van die Vaalrivier. Geen kansvatters asseblief!”
Die opwinding rondom hierdie mini’s herinner my aan die bekendstelling van die Prime-drankie wat die Suid-Afrikaanse mark getref het.
Mense het omtrent tekere gegaan om dit te probeer, met baie wat buitensporige pryse betaal het vir iets wat, na my mening, soos flou aanmaakkoeldrank proe.
Ongelukkig dien dit ook as ’n bewys dat ons almal kwesbaar is vir die effek van slim bemarking.
Vir baie is die idee om met elke R200 se aankope ’n mini te kry, ’n lekker beloninkie. Gesinne het die versameling van die mini’s in ’n prettige aktiwiteit omskep, waar die soeke na uitstaande items en die ruil van mini’s mense bymekaarbring. Dié klein versamelitems verskaf nie net aan kinders opwinding nie, maar ook aan volwassenes!
Ek weet sommige mense mag dalk sê ek is net negatief ingestel, maar ek stel jou gerus dat my medisynekas die vertoonkas geword het van mini’s weens my vrou en seuntjie se gereelde inkopie-ekspedisies.

In ’n wêreld wat dikwels ernstig en oorweldigend is, kan ek sien hoe die mini’s dien as ’n aansporing om die ‘klein’ dingetjies in die lewe te geniet.
Maar mense moet ook op hul hoede wees – hierdie trollie-manie het ’n donkerder kant.
’n Donkerder kant
Die slim bemarking skep bewustelik ’n gevoel van skaarste en eksklusiwiteit, wat mense aanmoedig om meer te spandeer as wat hulle beplan het, en soms meer as wat hulle kan bekostig.
Die risiko bestaan dat die waarde van hierdie items sal daal sodra die bohaai verby is.
Mense moet hulself afvra of die opwinding van vandag nie dalk môre se spyt is nie.
Baie mense het reeds aanlynbedrog ervaar waar trollies of mini-items belowe word, geld oorbetaal word, maar die items nooit opdaag nie.
Die frustrasie van sulke ervarings kan nie net finansiële gevolge hê nie, maar dit kan ook die plesier van die versamelproses bederf.
Dit is dus belangrik dat verbruikers versigtig is en hulself goed inlig voordat hulle aanlyn aankope doen.
Of jy saam met die versamelaars die trollie-koors ontwikkel het of skepties van die kantlyn af toekyk soos ek, vind ek dit fassinerend hoe vinnig iets kleins so baie waarde kan verkry – en terselfdertyd hoe doeltreffend slim bemarking is.



