Kapers kry bloedneus

‘Ons is dankbaar dat daar geen beserings aan ons of aan die polisie se kant was nie’

’n Vermeende kaper is doodgeskiet en nog een in hegtenis geneem toe lede van die Sheepmoor Plaaswag en polisie verlede Donderdag in ’n skietery met die verdagtes betrokke geraak het.

Volgens Mpumalanga-polisiewoordvoerder brig. Selby Mohlala, het die dramatiese gebeure vroeër die oggend in Volksrust begin ontvou toe polisie ’n verdagte voertuig met twee insittendes in die rigting van Amersfoort sien ry het. Die registrasienommer van die voertuig is nagegaan en daar is vasgestel dat die nommerplate vervals was.

Hulle het die voertuig agternagesit, maar kon dit nie inhaal nie. Die Amersfoort-polisie is in kennis gestel en die verdagtes is ingewag. Die bestuurder van die voertuig is beveel om stil te hou, maar het by ’n grondpad afgedraai en in die rigting van Piet Retief weggejaag.

Die verdagtes, wat vermoedelik van hul voertuig ontslae wou raak, het later by ’n plaas ingery en met die boer probeer “onderhandel” onder die voorwendsel dat hulle op soek was na beeste.

Toe die polisievoertuig opdaag, het die verdagtes wat met AK47-aanvalsgewere en ’n R5-geweer gewapen was, daarin geslaag om die polisielede te oorrompel. Hulle het die polisie se selfone afgevat en met die polisievoertuig in die rigting van Panbult weggejaag.

Enkele minute later het die verdagtes op nog polisielede afgekom wat aan die soektog na die voortvlugtiges deelgeneem het. Weer eens is die polisie deur die swaar gewapende mans oorrompel wat ook hul selfone en wapens by hulle afgeneem het. Die polisieradio is buite weking gestel en die verdagtes het weggejaag.

Intussen is die hulp van boere in die omgewing ingeroep en ’n padversperring is naby Panbult in samewerking met die polisie opgestel.

Toe die verdagtes hulle in die padversperring vasry, het die passasier uitgespring en met ’n AK47 op die bemanning losgebrand.

Die vuur is beantwoord en een verdagte is in die skietgeveg noodlottig gewond. ’n Tweede verdagte is in hegtenis geneem.

Drie AK47’s,’n groot hoeveelheid ammunisie, ’n R5-geweer en die gesteelde 9mm-polisiewapen is op die toneel gevind.

Plofstof, balaklawas, handskoene, ’n hamer en bedrading is in die verdagtes se verlate voertuig gekry. Daar word vermoed dat die toerusting gebruik sou word om OTM’s te beroof.

Die provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, lt. gen. Thulani Ntobela, het die boeregemeenskap bedank vir hul hulp en bystand met die aankeer van die verdagtes.

“Ek waardeer die risiko wat hulle geloop het om te verseker dat die verdagtes nie kon ontsnap nie, ten spyte daarvan dat die verdagtes swaar gewapen was. Ek vertrou dat die gemeenskap dié manne se voorbeeld sal volg in die oorlog teen misdaad. Dit bewys weer dat indien ons saamwerk, ons die oorlog teen misdaad in ons land kan wen,” het gen. Ntobela gesê.

Mnr. Henry Geldenhuys, nasionale voorsitter Veiligheid – TLU, het die boere wat aan die soektog na die verdagtes deelgeneem het, bedank vir hul tyd en opoffering.

“Ons is dankbaar dat daar geen beserings aan ons of aan die polisie se kant was nie. Dit het weer bewys dat mense ten alle tye paraat moet wees en aktief betrokke moet raak. Moet nie net in naam ’n lid van ’n organisasie wees nie.

“Dit is ook nie altyd nodig om in die voorste linie te wees nie. Iemand wat by sy of haar radio sit en inligting uitstuur of herlei, vorm net so ’n belangrike skakel en vervul ook ’n ewe belangrike taak as die mense op die grond,” het hy gesê.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes met ander misdade verbind kan word.

Die oorlewende verdagte staar ’n rits aanklagtes in die gesig wat insluit poging tot moord, motorkaping, gewapende roof, die rig van ’n vuurwapen, onwettige besit van plofstof, besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie asook die besit van toerusting wat gebruik kan word om misdaad te pleeg.

Hy het reeds Vrydag in die periodieke hof op Sheepmoor verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button