Laerskool Ermelo-onderwyser behaal eerste plek in Mpumalanga
Laerskool Ermelo-onderwyser Natasha Venter het die eerste plek in Mpumalanga by die Nasionale Onderwyserstoekennings behaal.
ERMELO – Natasha Venter se droom was aanvanklik nie om voor ’n klaskamer te staan nie. Sy wou as dieetkundige in ’n luukse hospitaal se intensiewe sorgeenheid werk.
Vandag, meer as ’n dekade nadat sy haar eerste tree in die onderwys gegee het, het dié Laerskool Ermelo-onderwyser die eerste plek in Mpumalanga behaal en berei sy voor om die provinsie by die Nasionale Onderwyserstoekennings te verteenwoordig.
Venter is in Vanderbijlpark gebore en het haar skoolloopbaan by Laerskool Kollegepark en daarna Hoërskool Driehoek voltooi.
Ná skool het sy ’n BSc-graad in Dieetkunde aan die Noordwes-universiteit verwerf.
Haar loopbaan het haar egter in 2003 na Ermelo gebring, waar sy haar gemeenskapsdiensjaar as dieetkundige voltooi het.
Dit is ook hier waar haar lewe ’n ander rigting ingeslaan het.
“My droomberoep was aanvanklik om as dieetkundige in ’n fancy hospitaal se Intensiewe Sorgeenheid te werk, maar ek beland toe in Ermelo en ontmoet toe my trouman hier. Die res is geskiedenis,” het sy vertel.
Venter het daarna vir vyf jaar as ’n konsultant-dieetkundige gewerk en werkswinkels aangebied om gemeenskappe in te lig en prakties te bemagtig om ’n gesonde leefwyse te handhaaf.
Dit was tydens dié werk dat sy verlief geraak het op die leerproses.

Nadat haar kontrak as konsultant verstryk, het sy besluit om onmiddellik by ’n skool aansoek te doen.
Venter het haar onderwysloopbaan in 2013 by Ligbron begin – sonder ’n enkele dag se ondervinding in die beroep.
Sy het vertel dat Dup van Rensburg, destydse hoof van Ligbron, haar die geleentheid gegee het om haarself te bewys.
In dié tyd het sy haar NGOS vir die Intermediêre en Seniorfase deur Unisa verwerf en oor die jare by Ligbron, Future Achievers Academy in Middelburg, NPSS en nou Laerskool Ermelo skoolgehou.
Sy is reeds drie jaar by Laerskool Ermelo.
As Graad 7-onderwyser probeer Venter om Engels relevant te maak deur die leerstof met die wêreld waarin haar leerders leef, te verbind.
Sy gebruik onder meer stories, poësie, debat, speletjies, musiek en digitale hulpmiddels om haar lesse kreatief en interaktief aan te bied.
Sy integreer ook nuwe tegnologie en kunsmatige intelligensie waar dit waarde tot die leerproses toevoeg.
“Ek wil nie tegnologie gebruik net omdat dit nuut is nie – ek wil hê dit moet leerders help om krities te dink, kreatief te wees en met meer selfvertroue te leer.”
Venter het onlangs die eerste plek in Mpumalanga in haar kategorie by die Nasionale Onderwyserstoekennings behaal.
Tydens die provinsiale rondte moes deelnemers uit verskillende streke aanbiedings voorberei wat verskillende kriteria van die onderwys dek en dit voor ’n paneel van provinsiale beoordelaars aanbied.
Sy het vertel dat sy nie haar eerste plek sien kom het nie.
“Jy kon my omtik met ’n veer! Ek het tydens my NTA-reis tot dusver ongelooflike dinamiese en innoverende onderwysers ontmoet dat ek dit nie verwag het nie.”
Die erkenning beteken baie vir haar, maar sy beskou dit nie slegs as ’n persoonlike prestasie nie, maar eerder as ’n erkenning van haar leerders, kollegas, skool en almal wat haar deur haar onderwysloopbaan ondersteun en aangemoedig het.
Die eerste persoon met wie sy die nuus gedeel het, was haar skoolhoof, dr. Annalize Gouws, en daarna haar man.
Die nasionale rondte van die Nasionale Onderwyserstoekennings vind van 15 tot 18 September by die Birchwood Hotel in Boksburg plaas, met Venter se onderhoud wat op 16 September plaasvind.



