Die Afrikaanse Departement van Hoërskool Kempton Park het ’n poësiekompetisie onder leiding van Alma Bodenstein van stapel gestuur om die leerlinge die geleentheid te bied om met hul skryftalent te woeker.
Die wenner was Kian Danielle (Graad Nege), in die tweede plek was Wiehann Mienie (Graad 11) en derde was Julius Dercksen (Graad Nege).
Hier is Kian se wengedig.
Onderwyser deur Kian Danielle
Ek sit hier en wonder oor ’n onderwyser
Hoe hul dit regkry dat leerlinge luister?
Met hul les en hul klas gaan hul net aan
Verduidelik geduldig tot almal verstaan
Vir ’n onnie vandag het ek baie respek
Ek is eerder ’n leerling, ek ruil nie my plek
Om onwillige skepsels te leer wat nie luister
Hoe dit ’n plesier kan wees laat my duister
Honderde gesigte, ek kan nie verstaan
Hoe juffrou my ken, hoe weet sy my naam?
Hoe kry meneer dit reg herhaal keer op keer
Aan ondeunde kinders, wat niks kan waardeer
Ek wonder oor hul geduld, hoe kry hulle dit reg
As dit ek moet wees, ek hardloop weg
’n Onderwyser word gebore, dis nou maar wors
Hare op jou tande om met jou te laat mors
So dankie Juffrou en Meneer vir jou deel en plig
Ek sal my deel doen om jou las te verlig
Ons weet wat julle doen is glad nie verniet
Als vir ons toekoms om dit te geniet.
Die Aaklige Waarheid deur Wiehann Mienie
Lewe en Dood is baie goeie vriende
Hulle ontmoet daagliks by die poort tussen die Hemel en Hel
en vertel hulle stories vir mekaar
Lewe kan nie ophou praat oor haar opwindende oggend nie:
Die ma met haar pasgebore seuntjie wat sag sy koppie soen
Terwyl die Pa met trane-trots die kindjie van sy toekomsdroom vertel
Sy Facebookpos kry honderd hartjies en Twitter se kobaltvoëltjie twiet
Dood bly tjoepstil na sy klaar gepraat het
Lewe vra wat fout is …
Hy kyk haar lank aan en sê:
Jy was blind, maar ek was langs jou in die hospitaal vandag
Wyl almal lag moes ek reeds die dood se saad in daardie baba plant
en toe my oes gaan haal:
Soos ’n dief in die nag, het ek ’n Kankerkindjie weggedra
Sy ouers moes ek agterlaat terwyl ek hulle pyn en rou ervaar
Dit het my siel ingedring en in my hart gesteek
Ek het gesien hoe ’n vrou haar man vir oulaas groet, sy greep los …
voordat sy onwillig, hand-aan-hand, saam met my na buite stap
Jy was geloof en opgehemel vir jou aksies
Al die mense het oor jóú gepraat
Terwyl ek gelos was met niemand … alleen
Lewe vra toe hoekom die mens so baie van haar hou, maar vir Dood haat
Dood antwoord:
Want jy is die wêreld se pragtige leuen
En ek, die wêreld se aaklige waarheid.
Die Aarde in Sak en As deur Julius Dercksen
Soos ek deur die strate loop,
sien ek dis vuil en vrot.
Mense juig van pure genot,
maar die stad sug, want dis ’n ashoop.
Mense, mense jul kry net een Aarde!
Kyk, kyk hoe lyk die plek,
Met blik, papier bevlek!
Waar, waar is die Aarde se waarde?
Die grond versmoor; die land is vuil.
Verkwik die Aarde se siel
en moet hom nie verniel.
Die grond gaan dood; die plante huil.
Pleitend smeek hy: “Herwin jou blik
en beskerm die aardbol,
want dit is waardevol.”
Neerhalend skree jy: “Sluk jou snik!”
Ek, die Aarde, het een wens;
herwin jul rommel, papier en glas,
die omgewing is in sak en as.
Jul blikke vernietig my pens!
Soos ek deur die strate loop,
sug die Aarde wanhopig voort.
Mense pleeg ‘omgewingsmoord’
met wapens in rommel gedoop.
