Allen Park hou partytjie saam met hul oudstes
Allen Park sal volgende jaar die kinders van bejaardes na hul 90's verjaarsdagpartytjie uitnooi.
Allen Park het op 15 Augustus vir al sy 90-plus bejaardes ’n verjaarsdagpartytjie gehou waar die groep saam hul herinnerings kon onthou.
Almal het ’n geskenkpakkie ontvang en daar was ’n akoestiese kitaaropvoering met goue treffers van Jim Reeves. Marius Jakobs se Christelike items het tot die dag bygedra.
Drie vroue van Old Mutual Kempton Park, Anathi Monyela, Nomthanazo Qhamekoane en Sealane Mothapo, het ook kom kuier om die groep met lekkernye te bederf.
Bestuurshoof van Allen Park André Naudé het ingeloer om almal geluk te wens. “Dit is ’n groot eer om soveel jare te kan bereik. Ek wil tog nie so oud word nie.” Waarop Bessie Van Rooyen (93) geantwoord het: “Ek wil ook nie so oud word nie!”
Van Rooyen het aan Express vertel dat sy vir die laaste 36 jaar op haar eie is. Sy het vier kinders, nege kleinkinders en sewe agterkleinkinders. “Vir my gaan dit nog altyd daaroor om hulle aan die Here op te dra,” sê sy.
Wiegner Vledder (91) het partytjie saam met sy lewensmaat Annie (88) gehou en vertel dat hulle al 61 jaar getroud is. Toe hulle gevra is wat die geheim tot so ‘n lang en gelukkige huwelik is, het Annie gesê: “Dit neem harde werk, vasbyt en ’n groot invloed is geloof en vertroue in die Here.”

Hulle is oorspronklik van Nederland en woon al 60 jaar in Kempton Park. “In die ou dae was Kempton nog baie rustig en mens kon nog veilig en alleen in die strate wandel.”
Hoewel hulle nie lewensmaats is nie, het nóg ’n paartjie vertel hoe hulle mekaar op die grens van Botswana en die destydse Rhodesië (nou Zimbabwe) ontmoet het toe Krissie Venter (95) net 21 jaar oud was. Japie Visser (93) was toe 19, en sê dat hulle op hul oudag mekaar weer by Allen Park ontmoet het.
Visser het gespog dat hy 14 instrumente kan speel na al sy jare in musiekorkeste. Hy het ook ’n paar liedjies op die klavier gespeel.
Die kuier het geeïndig in die kamer van Daan (93) en Annie van Niekerk (87) waar hulle foto’s van die ou dae gewys het. Annie is bedlêend sedert sy ’n beroerte gehad het, en Daan was net te gelukkig om haar wakker te sien.
Hy het haar hare gevryf en gesê: “Word wakker, liefling, die koerant het kom foto’s neem.” Hy het met ’n traan op sy wang gesê hoe die 67 huweliksjare saam net te wonderlik is.
Pat van der Merwe (96) het die besonderse eer gehad om as die oudste erken te word.
Allen Park se leefstylbestuurskonsultant Sarie Scheepers het sy gesê vir volgende jaar se 90’s partytjie sal die kinders van die bejaardes ook uitgenooi word.

Also follow us on:





