Kemptonparkse ma staan op teen mishandeling
Die bemagtiging van jong meisies is ook vir haar belangrik en dis hoekom sy haar eie stigting, IziNdlovukazi, begin het.
’n Kemptonparkse entrepreneur en ma van een was een van 12 finaliste in VIA en Apprentesses SA se nuwe realiteitsreeks, Ster-Status.
Hoewel Noni Indlovukazi nie gewen het nie, is sy steeds besig om haar droom om ’n prokureur te word na te volg.
Vir hierdie versekeringsmakelaar en gesertifiseerde eiendomsagent lê familiesake na aan die hart. Haar ma (ook haar beste vriendin) is ’n rekenmeester en het haar van kleins af geleer om in haarself te glo.
Haar pa, wat sy Baba genoem het voor sy dood, was een van haar grootste inspirasies omdat hy ’n kwadrupleeg was wat vir vier jaar aan ’n rolstoel gekluister was nadat hy nege keer geskiet is. Die res van die gesin is ook baie suksesvol in hul eie reg.
Toe sy vir die kompetisie ingeskryf het, het sy geweet dat sy ’n drastiese geloofsprong moes neem om haar drome te bewaarheid.
“Ek wil van hierdie platform gebruik maak om jongmense te inspireer. Dit voel werklik of ek fisies en emosioneel gereed is om ’n merkwaardige verskil te maak,” verklap sy oor haar motivering.
Mishandeling is ’n onderwerp waaroor sy baie passievol is. Omdat sy self ook ’n slagoffer van seksuele mishandeling was, het sy by die Womb Foundation betrokke geraak, waar sy vroue ondersteun wat reeds op verskeie maniere mishandel is.
Die bemagtiging van jong meisies is ook vir haar belangrik en dis hoekom sy haar eie stigting, IziNdlovukazi, begin het.
Haar rolmodelle is Basetsana Kumalo en Connie Ferguson. Sy kan vereenselwig met hulle en bewonder hierdie twee vroue se dryfkrag en sukses. Indien sy eendag die geleentheid kry, sal sy graag saam met een of albei van hulle wil werk.
As sy vir ’n dag president kon wees, sou sy die doodstraf vir verkragters terugbring. Dit breek haar hart dat gewetenlose kriminele jong meisies se onskuld steel en daarmee wegkom. Sy sal graag die persoon wil wees wat ’n impak maak deur namens hierdie kwesbare meisies te praat.
Al is sy ’n ernstige sakevrou het sy steeds ’n lawwe kant en neem haarself nie te ernstig op nie. Om gereeld voor die spieël met haarself te staan en praat en opvoerings te doen, is iets wat haar uit haar maag laat lag.
Noni se gunsteling sêding is: “Nie alle storms kom om ’n gemors van jou lewe te maak nie. Somtyds kom dit juis om die pad voor jou weer oop te maak.”
Positiwiteit is haar grootste prioriteit. Dit maak nie saak wat die lewe na haar kant toe gooi nie, sy sal altyd kies om sterk te bly omdat moeilike lewenspaaie soms na die beste bestemmings lei.
