Local newsNews

KYK: Digter slaan pryse los in twee kompetisies

Hy skryf sy gedigte binne vier minute, maar verwys daarna as stories in kort fromaat.

’n Vlieg se vlerke klap stadiger as wat Stanley Cierenberg (47) van Glen Marais ’n gedig neerpen.

Drie van sy spontane gedigte en een kortverhaal het pryse losgeslaan in die Croyez Literêre-kompetisie, waar dit in die top 22 geëindig het, en die Ingrid Jonker: L’art Poétique-kompetisie, waar dit die top 24 behaal het. Die drie gedigte staan is Ouma, Dood van ’n Geliefe en Die Vismark. Sy gepubliseerde kortstorie is Pluk vir my ’n Ster. Werke soos dié is binne slegs vier minute geskryf, vertel Cierenberg.

Meer as 600 werke van regoor die wêreld was ingeskryf.

Sy werke was die enigste van alle inskrywings wat in twee bundels, Croyez Stories en Die Môre is Jy, soos saamgestel deur Zalman S Davis, gepubliseer is. Die bundels se inhoud is deur Ingrid Jonker se dogter, Simone Jonker, beoordeel.

“Ek wou nie oorspronklik inskryf nie. Ek hou nie van kompetisies nie, daar is te veel reëls en regulasies en ek doen dit nie,” vertel Cierenberg aan Express. Dié sentiment word bloot weerspieël in hoe hy plat op die aarde met kaalvoete en ongetemde hare trotseer. Die tatoeëermerke staan uit op vier ledemate, alles Afrikaanse woorde in veelryke lettertipes.

Maar hoofbeoordelaar Carla van der Spuy het aangedring dat hy inskryf.

“Sy het Liefde Agter Tralies geskryf, wat nou baie groot opslae maak,” sê Cierenberg.

Hy vertel ook dat hy al nege jaar ernstig skryf.

“Jy weet op skool skryf mens maar opstelle vir jou maatjies en love letters. Ek was mos so goed met die love letters.

“Ek skryf meer gedigte, maar ek weet nie of dit die regte woord daarvoor is nie. My werk is meer ’n storie in ’n kort formaat, want gedigte het reëls en ek hou nie daarvan nie.”

Nou en dan sal hy waag om ’n gedig te skryf waar die woorde rym, maar dit voel dan asof dit forseer word.

“Dan verloor dit diepte en eerlikheid.”

Soos hy meer oor sy loopbaan uitpak, sê hy dat hy ook musiek speel.

“Ek besoek teaters, soos die Pierneef Teater in Pretoria, wanneer ek nuwe gedigte geskryf het. Terwyl ek dan my werk voorlees, speel ek terselfdertyd klavier.”

Toe daar gesels word oor die toekoms van Afrikaans in Suid Afrika, vertel hy hoe hy glo dat dit net groter sal word.

“Nee kyk, dit is vir seker hier om te bly. Sodra jy mense gaan belet om iets te ondersteun, gaan hulle nes kinders dit al hoe meer wil ervaar.”

Cierenberg is vir seker nie ’n karakter wat in een boksie saamgevat kan word nie, meeste veroordelings word in vreemde wyses oortref. Hy kan maklik gesien word as die soort mens wat in die anti-Steve Hofmeyr-kamp sal stem. Hy vertel hoe mal hy oor Hofmeyr se skryfwerk is.

“Wat praat jy, ek het tot Steve se handtekening op my kuit laat tatoeëer.”

Om meer van sy werke te leer ken en te sien wat hy nog als aanvang, besoek gerus sy webtuiste op www.breinsuiker.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Kempton Express in Google News and Top Stories.

Back to top button