Oud-burgemeestersvrou (87) van die 1970’s sterf
Sy het tot en met haar afsterwe by haar dogter in Glen Marais gebly.
Marie Marais (87), ’n oud-burgemeestersvrou van Kemptonpark, is op 21 Augustus oorlede.
Sy was getroud met Wynand Marais en die egpaar was in die sewentigerjare vier keer burgemeesterspaar van die stad.
Na haar man se dood het sy steeds aktief in haar gemeenskap gebly. Sy was bestuurslid van Huis Erna vir verswakte bejaardes, Allen Park, Casa Caritas, die Kommandoraad en Geloftefeeskomitee.
Verder het Marie op die beheerliggaam van Kempton Panorama-skool gedien, was beskermvrou van Jong Dames Dinamiek, kassier, diaken en later ouderling van die Hervormde Gemeente Zuurfontein.
Sy het ook as toerbestuurder vir Atlas-toere opgetree.
Marie was geliefd en ’n rolmodel en mentor vir baie mense. Sy was nederig, diep gelowig en haar optrede het altyd van haar sterk geloof gespreek.

Sy was onder baie bekend as Ouma Marie.
Selfs op haar oudag het sy daarvan gehou om goeie boeke te lees en blokkiesraaisels in te vul. Sy het Beeld van voor tot agter deurgelees en was altyd op hoogte van nuusgebeure.
Ouma Marie het vir haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders geleef. Sy het tot en met haar afsterwe by haar dogter Cecile in Glen Marais gebly. Haar seun Thys is in Mei vanjaar oorlede.
“Ons sal haar altyd onthou as ’n uitsonderlike mens. Die familie en vriende betreur haar heengaan, maar berus daarin dat sy nou verlig is van alle pyn en lyding,” het haar familie gesê.
Sy word nagelaat deur haar dogter Cecile, Louretta, ses kleindogters, drie aangetroude kleinseuns, vyf agterkleinkinders, familie en talle vriende.
Sy word Woensdag vanuit die Hervormde Gemeente Zuurfontein begrawe en sal in Zuurfontein Begraafplaas ter ruste gelê word.
Also follow us on:





